HARTENBOS NUUS - Die projekvennote van die beplande skool op Hartland-landgoed sê hul miljoene rande in ontwikkelingsbydrae is te veel, maar Mosselbaai se burgemeester, Dirk Kotzé, sê korting op dié bedrag sal daarop neerkom dat die algemene belastingbetaler die kostes moet dra.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het onder hewige kritiek deurgeloop ná ’n verklaring deur die Moedertaal in Onafhanklike Skole, ofte wel die MOS Inisiatief, en Doxa Deo Opvoedkunde, waarin dié organisasies bevestig hulle is nog daartoe verbind om ’n nuwe Afrikaanse privaat skool, Hartland Akademie, te vestig.
Dít, sê hulle, “ondanks volgehoue administratiewe uitdagings en buitensporige munisipale heffings”.
Die vennote sê hulle moet meer as R7 miljoen se ontwikkelingsbydrae opdok, en indien hul getal leerders tot 1 000 toeneem, kan hierdie bedrag glo tot R22 miljoen styg.
Die verklaring is aan die einde van Oktober uitgereik, met die VF Plus wat op 21 November ook sy stem bygevoeg het.
Burgemeester reik verklaring uit
Hoewel die munisipaliteit nog nie op Mossel Bay Advertiser se navrae in dié verband reageer het nie, het Kotzé egter op Maandag 24 November ’n verklaring uitgereik.
“Wetgewing vereis dat munisipaliteite ’n koste van voorsiening -studie (cost of supply study) moet doen, en jaarliks ’n tarieflys moet goedkeur vir die koste verbonde aan grootmaatdienste. Daar word ingevolge wetgewing van ontwikkelaars verwag om ’n ontwikkelingsbydrae te maak tot die vestiging van die infrastruktuur wat ter wille van enige ontwikkeling tot stand gebring moet word.”
Hy sê hierdie bydraes word nie lukraak bepaal nie.
“Dit word deur professionele ingenieurs en ander professionele persone haarfyn bereken gegrond op langtermynbeplanning en deur onder meer vervoerimpakstudies, watervoorsieningsbeplanningsraamwerke en infrastruktuurstudies gerugsteun.”
Die Advertiser het die munisipaliteit gevra om verder uit te brei oor hoe presies hierdie berekeninge gedoen word.
Versoek om korting
Die Hartland Akademie-projek se prokureurs het ’n formele motivering aan die munisipaliteit voorgelê waarin gevra word dat die bedrag betaalbaar aangepas word en waarin hulle ook noem dat die berekeninge nie rasioneel, billik of geregverdig is nie.Dié formele motivering het in ’n spesiale raadsvergadering op 17 Oktober gedien.
Volgens die vergaderingsagenda is Hartland se ontwikkelingsbydrae R6 956 891, en hulle vra vir vrystelling van R5 237 759. Goedkeuring hiervoor is nie verkry nie.
’n Nuwe Engelse privaat skool wat vanjaar sy deure oopgemaak het, King’s College by die Outeniquasbosch Wildlife Village buite Hartenbos, se aansoek om vrystelling van húlle ontwikkelingsbydrae het ook tydens dieselfde vergadering gedien. Hulle bydrae is reeds betaal, en was R7 949 327.
Die ontwikkelaar van dié skool se versoek was dat die geld wat reeds betaal is, gebruik word as krediet vir enige verdere ontwikkelingskoste wat in die toekoms betaalbaar sal wees. Ook hulle is geweier.
In dié skool se aansoek noem hy ook die munisipaliteit se mesoskopiese verkeersmodel van 2024 wat gelei het tot ’n aansienlike styging in bydraes.
King’s College voeg stem by
King’s College se bestuur het vanoggend, 25 November, in sy eie verklaring bevestig hy “ondersteun Hartland se standpunt en is ook van mening dat die heffings onregverdigbaar hoog is”.“Teen die tyd dat die mesoskopiese studie afgekondig is - en dit duidelik geword het dat die munisipale ontwikkelaarsheffing, byvoorbeeld vir ritopwekking, sou styg van sowat R700 tot R7 000 per leerder - was ons projek reeds te ver gevorder om te stol of te vertraag.
“Ons moes ons verantwoordelikheid teenoor ons gemeenskap, personeel, ouers en leerders nakom, en het daarom die ontwikkelingsheffings onder formele protes betaal, ten spyte van die groot finansiële implikasies. King’s College beteken eenvoudig té veel vir Outeniquasbosch Wildlife Village om die proses op hierdie stadium te stuit.”
Hartland het in sy aanvanklike verklaring gesê: “Basiese onderwys is ’n grondwetlike plig van die staat. Wanneer privaat rolspelers inspring om die tekort aan skole aan te vul, behoort hulle nie gestraf te word met finansiële heffings nie - hulle help juis om die staat se mandaat uit te voer.”
Kotzé het op sy beurt weer benadruk dat die skep van skole en skoolfasiliteite nie ’n munisipale funksie is nie, maar ’n funksie van die nasionale regering en die provinsiale onderwysdepartement.
Dilemma van belastingbetaler
Verder sê Kotzé, hoewel hy en die raad hulle beywer vir die vestiging van nuwe skole, kom die dilemma in by die feit dat as die skool nie die ontwikkelingsbydrae betaal nie, dit êrens ánders verhaal moet word. “Wat uiteindelik daarop neerkom dat die las vir infrastruktuurontwikkeling na ons belastingbetalers verplaas word.“Onthou, die vereiste sou wees dat álle sosiale instellings dan deur die bank dieselfde persentasie afslag moet geniet, wat die las op ons belastingbetaler in die toekoms eksponensieel sal verhoog.
“Dit kan ook nie regverdig word dat ons belastingbetalers, mense wat in hierdie geval dalk nie eens meer skoolgaande kinders het nie, moet opdok vir ’n instelling of instellings wat ingestel is om voorts ’n wins uit die ontwikkeling te maak nie.”
Hy sê die skool in Hartland “vereis verskeie grootmaatdiensinstallasies, onder meer ’n nuwe pompstasie, asook nuwe water- en rioolpypleidings. Boonop moet aanpassings gedoen word aan onder meer padtoegange, omdat die skool ’n bewese verkeersimpak sal meebring op ’n reeds besige roete.”
Waar kom die verkeer vandaan?
Een van die kwessies wat Hartland met die berekeninge het is juis die feit dat die verkeer volgens hom grootliks van bínne die landgoed sal kom. Volgens sy vertoë in die spesiale raadsvergaderingagenda sal die skool hoofsaaklik die Hartland-gemeenskap dien.Ná die aanvanklike verklaring deur die vennote het Mossel Bay Advertiser verdere navrae aan die MOS Inisiatief se uitvoerende hoof, Roedolf van der Westhuizen, gerig; onder meer oor waar die leerders vir die skool vandaan sal kom, sou dit realiseer.
“Die skool se inskrywings het nog nie geopen nie, aangesien daar nog nie ’n gebou is om die kinders te huisves nie. Ons sal eers met sekerheid kan sê waar die leerders vandaan gaan kom sodra die inskrywings formeel oop is,” sê hy.
Volgens Van der Westhuizen was die plan om die skool te open teen ’n gemiddelde skoolfonds van R4 000 per kind per maand oor 12 maande. “Met die dienstebydrae bygevoeg sal die huurooreenkoms egter verhoog, wat beteken dat die skoolfonds van dag één af met 32% verhoog sal moet word - iets wat, volgens ons marknavorsing, te duur vir die Afrikaanse skolemark is.”
Bydrae en risiko
“Die risiko van ’n nuwe skool is dat dit moontlik nie genoeg leerders in die eerste sewe jaar van sy bestaan kan inskryf om ’n gelykbreekpunt te bereik nie. As dit nie gebeur nie, sal die skool nooit sy verpligting om die verliese vir dié eerste sewe jaar te finansier, kan terugbetaal nie,” sê Van der Westhuizen.“Daarom is ons nie bereid om die risiko te neem om ’n skool te open met ’n skoolfondsbedrag wat ons glo die mark nie kan bekostig nie, want dit verhoog die kans dat daar onvoldoende leerders sal inskryf - wat beteken die skool sal nooit lewensvatbaar word nie.
“Met ander woorde, tensy hierdie dienstebydrae op die een of ander manier verlaag kan word, of iemand anders as die skool vir die koste instaan, is die skool eenvoudig nie lewensvatbaar nie en sal ons kapitaal iewers anders meer doeltreffend aangewend kan word,” sê hy.
Skole se verdere stappe
Oorweeg die Hartland-vennote verdere stappe teen die munisipaliteit indien die bydraes nie aangepas word nie?Ja, sê Van der Westhuizen. “Die MOS Inisiatief en Doxa Deo Opvoedkunde het hul volgehoue verbintenis bevestig om ’n nuwe Afrikaanse privaat skool, Hartland Akademie, op die Hartland-landgoed in Hartenbos te vestig. Ons ondersoek dus tans verdere stappe.”
King’s College se bestuur het sý verklaring op ’n soortgelyke noot afgesluit: “Ons is tans besig om regsadvies hieroor in te win, maar daar is nog geen finale besluit oor die pad vorentoe nie.
“Hoewel ons dit nie as ’n politieke kwessie beskou nie, sien ons dit in ’n ernstige lig as ’n saak van redelikheid. Die huidige heffings is buitensporig hoog en maak die uitbreiding van kwaliteitonderwys onbehoorlik duur.”
Beide skole sê egter hulle bly oop vir verdere gesprekvoering en samewerking om, soos King’s College dit stel, “’n meer gebalanseerde beleidsraamwerk te help vorm wat privaat skole in Mosselbaai in staat sal stel om hul positiewe bydrae tot die gemeenskap voort te sit”.
Politieke kommentaar
Danie Acker, VF Plus-raadslid in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het ook op die situasie kommentaar gelewer en gesê daar is tans “net een akademiese enkeltalige Afrikaanse hoërskool in wit voedingsgebiede in die Suid-Kaap, naamlik die Hoërskool Outeniqua in George, terwyl daar volop Engelse en Xhosaskole in die streek is waar meer as 70% van die bevolking Afrikaanssprekend is.”Hy sê die vraag na ’n Christelike Afrikaanse skool is oorweldigend en dringend, veral in ag genome die onderwysposte wat onlangs deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement gesny is.
In die burgemeester se verklaring sê hy dit is “jammer dat kleinlike politiekery gemaak word van volgehoue pogings om ’n addisionele hoërskool in Mosselbaai gevestig te kry nadat ’n berig die afgelope naweek in Maroela Media verskyn het. Uiteindelik is in belang van Mosselbaai se belastingbetalers opgetree.”
Acker word ook in Maroela Media se berig aangehaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’