Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Om te staan en toekyk hoe jou huis afbrand is nie 'n situasie waarin enige persoon hulself wil bevind nie.
Maar dit was hierdie week die wrede werklikheid vir sommige Mosselbaaiers.
"Ons het in Island View gaan staan en ek het gesien hoe hy brand," sê Bea Blignault, een van die inwoners van Vakansieplaas wat Dinsdag 6 Januarie tydens die brand haar woning in daardie gebied verloor het.
Die ATKV het verblyf vir slagoffers van die brand beskikbaar gestel, en Blignault sê hulle het dankbaar daarvan gebruik gemaak. "Ek het nie 'n dak oor my kop gehad nie." Daarna het haar familie ook uitgereik.
Nodeloos om te sê, ry die emosies wipplank in só 'n situasie. Blignault het Woensdagoggend gesê sy was geskok om haar huis so te sien, en was met tye emosioneel, maar toe sy die huis se aankoop in 2019 noem, het sy skoon uitgebars van die lag. "En ek betaal hom nog af! Dit is al wat ons kan doen, dit gaan nie help om te huil oor 'n ding wat nie meer daar is nie," sê sy.
Kyk die video-onderhoud met Blignault hier: https://www.facebook.com/share/v/1Mo13Us2ju/
Blignault het wel ook verblydend opgemerk dat haar sleepwa en motorfiets die stryd oorleef het. Sy self het 'n skamele 10 minute gehad om te red wat sy kon voor hulle moes ontruim. "Gelukkig kon ek vroeër bel en vir die kinders sê: 'Kry net julle noodsaaklike papiere bymekaar!' Toe ek hier kom, toe maak ek 'n beeline vir my huispapiere dat ek dit darem het, en ek het darem hierdie hemp en 'n broek wat ek ekstra kon kry," beduie sy na haar klere.
"So ja-nee, ek is geseënd. Ons was almal veilig gewees en my papegaai kon ons darem uitkry. Die twee katte het die pad gevat, so ons weet nie waar hulle is nie, maar ons het foto's gepost ingeval iemand hulle dalk sien."
Op die onderwerp van mense se goedhartigheid met skenkings en ander hulp gedurende hierdie tyd, het sy ook tong-in-die-kies gesê: "Ek glo vas ek gaan ryker anderkant uitkom as wat ek was."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’