MOSSELBAAI NUUS - Juan Fortuin is ’n onderwyser, ’n model en ’n wonderlike mens in alle opsigte. Wanneer sy nie in die klaskamer is nie, probeer sy ’n verskil in die Mosselbaai-gemeenskap te maak.
Vertel ons ’n bietjie van jouself - wie is jy en wat doen jy?
Ek is ’n onderwyser by Hoërskool Sao Bras. Ek glo dat jou verlede jou nie definieer nie en dat jou omstandighede nie jou toekoms hoef te bepaal nie. Ek probeer om dieselfde boodskap aan my leerders oor te dra.
Hoe lank woon jy al in die Mosselbaaiomgewing?
Mosselbaai is die plek waar my wortels lê. Dit is waar ek grootgeword het, waar my storie begin het en waar baie van my belangrikste herinneringe gevorm is. Dit is deel van wie ek is.
Wat is jou gunstelingding van Mosselbaai?
Die mense en die gemeenskapsgevoel. Mosselbaai is ’n plek met verskillende stories, en ek glo elke mens het iets om te bied. Dit is ook vir my besonders dat ’n mens hier kan sien hoe mense, ten spyte van verskillende omstandighede, aanhou droom, werk en bou aan ’n beter toekoms.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek geniet dit om kreatief te wees, nuwe projekte aan te pak en geleenthede te skep waar mense hulself kan uitleef.
Wat is iets van jou wat mense dalk nie weet nie?
Mense ken my dalk as die onderwyser voor in die klas, maar ek het ook ’n agtergrond in modellering en skoonheidskompetisies. Tussen 2016 en 2018 het ek meer as 10 titels verwerf en later ook as beoordelaar opgetree.
Wie of wat het die grootste invloed op jou lewe gehad?
My familie het ’n onuitwisbare invloed op my lewe gehad. Hulle bly deel van my storie en van die mens wat ek vandag is.
Waarop is jy die trotsste in jou lewe?
Ek is die trotsste daarop dat ek nie toegelaat het dat moeilike omstandighede die laaste woord oor my lewe spreek nie. Ek is trots daarop dat ek vandag steeds my drome nastreef en terselfdertyd die geleentheid het om ander mense, veral jongmense, te inspireer.
Wat is iets wat jy nog graag wil bereik of doen?
Ek wil graag verder groei in die onderwys en eendag ’n leierskapsposisie bereik waar ek ’n groter verskil kan maak. Ek wil aanhou om geleenthede vir jongmense te skep, veral dié wat voel dat hulle nie goed genoeg is nie, of dat hulle omstandighede hulle beperk.
Juan Fortuin. Foto: Verskaf
As jy enige persoon vir koffie kon nooi, wie sou dit wees en hoekom?
Ek sou my ouma nooi, wat ons intussen verlaat het na haar ewige tuiste. Daar is soveel dinge wat ek nog met haar sou wou deel.
Wat is een ding wat jy graag vir die mense van Mosselbaai wil sê?
Moet nooit iemand se potensiaal meet aan waar hulle vandaan kom, wat hulle deurgegaan het of hoeveel keer hulle geval het nie. Wees vriendelik, gee mense geleenthede en moenie ophou glo in iemand net omdat hulle nog nie hul deurbraak bereik het nie.
Nomineer ons volgende ‘Ons Mens’
Wil jy iemand vir hierdie weeklikse rubriek nomineer? Dit kan enigiemand in die Mosselbaai-omgewing wees wat volgens jou ’n positiewe verskil in ons gemeenskap maak.
Stuur jou nominasie na [email protected] of WhatsApp dit na 072 729 7121. Sluit asseblief die volgende in: die naam van die persoon wat jy nomineer; die rede vir jou nominasie; jou kontakbesonderhede; en die genomineerde se kontakbesonderhede. Wie weet - dalk is jou plaaslike held ons volgende Ons Mens!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’