KWANONQABA NUUS - “Enigiemand kan spin, solank jou hart daarin is.” Só sê Enrico Josephs (42), een van Mosselbaai se bekende en passievolle spinners.
Die spinning-kollig was die afgelope naweek op Mosselbaai danksy die Eden Fest Spinning Edition-geleentheid wat in KwaNonqaba aangebied is.
Volgens die organiseerder, Renier van Rooyen, het die geleentheid sowat 5 000 toeskouers en 70 voertuie gelok.
Sommiges mag dalk dink spinning is bloot ’n spul rasende enjins en skreeuende bande, maar hierdie adrenalienbelaaide aktiwiteit is ’n kultuur op sy eie, én word boonop amptelik deur Motorsport SA erken.
Oor die algemeen behels dit voortdurende 360°-rotasies, syfer-agtpatrone en gechoreografeerde toertjies binne-in ’n afgeslote arena.
Hoewel ons plaaslike manne dit meer performatief as mededingend beoefen, is daar beslis geen gebrek aan passie nie.
Mossel Bay Advertiser het by ’n paar van hulle gaan aanklop om uit te vind wat spinning vir hulle beteken, hoe hulle daarmee begin het en waarom hulle dit geniet.
Angus October en Lanwell Olivier op die baan. Foto: Owen Sports Photography
Josephs, Angus October (26) en Lanwell Olivier (33) sit al jare agter die stuurwiel en donuts gooi. Al drie het ook aan verlede Saterdag se geleentheid deelgeneem.
Josephs spin al vandat hy 23 is, maar het reeds as jong seun ’n belangstelling in die sport ontwikkel toe hy ander bestuurders in KwaNonqaba in aksie gesien het.
Vir hom is dit eenvoudig ’n ander gevoel wanneer hy agter die stuurwiel is.
“Ek voel vry. My bloed pomp vinniger, die adrenalien is hoog, en wanneer die skare my naam roep, maak dit my gelukkig, want dan voel ek asof ek iets reg doen,” sê hy.
October sê al wat jy as bestuurder hoef te doen is om seker te maak jou kar rol nie! Hy’t met spinning begin toe hy 15 jaar oud was.
Meer as 10 jaar later voel hy dit is nog steeds só opwindend dat hy dit net oor en oor wil doen. Olivier het tussen motors grootgeword en gesien hoe sy oupa en ooms aan hulle karre werk.
Toe hy ook op 15 begin spin het, het hy juis een van sy ooms se karre vir sy heel eerste rit gebruik.
Enrico Josephs en sy passasier, Jaden Seconds. Foto: Owen Sports Photography
Voorbereiding
’n Week voor enige spinning-geleentheid neem Josephs sy gemodifiseerde kar na sy vriend, Chadwin da Silva - self ’n spinner en eienaar van ’n plaaslike onderneming wat in pasgemaakte (customised) motors spesialiseer - vir ’n inspeksie. Josephs gebruik ’n kar wat hy self spesifiek vir die spinning gebou het, bekend as die Viper.
October werk elke naweek aan sy kar, terwyl Olivier by sy huis saam met ’n groep vriende bymekaar kom om aan hul karre te werk.
Dis ’n ernstige saak, en hoewel die spinkultuur in Mosselbaai groei, voel al drie dat een ding ontbreek: ’n baan uitsluitlik vir spinning waar hulle meer gereeld kan oefen en hul karre kan toets.
Gevaar
Alhoewel spinning opwindend is, is daar natuurlik ’n veiligheidsrisiko.
Motorsport SA het gestandaardiseerde veiligheidsreëls vir goedgekeurde geleenthede in plek, waaraan organiseerders en deelnemers moet voldoen.
Die bestuurders word dikwels vergesel deur een of meer passasiers wat nie eintlik plat sit nie, maar by die venster of deur uithang terwyl die kar tol, en ook gewaagde en ingewikkelde toertjies uitvoer.
Soms klim selfs die bestuurders uit terwyl die kar nog beweeg, en hulle spring dan weer moeiteloos in om die enjin te laat brul en nog meer rubber te brand.
Die bestuurders is soms ook bloedjonk, soos Conner February (11), wat van so ver as Mitchells Plain gekom het om Saterdag sy vaardighede in Mosselbaai ten toon te stel.
Volgens sy mentor, Jonathan Schaffers, is Conner glad nie bang agter die stuur nie.
Conner February. Foto: Verskaf
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’