KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - Twee mans van Klein-Brakrivier is elk tot agt jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hulle ’n vrou in Februarie 2022 in haar huis verkrag het.
Die mans sal nie geïdentifiseer word nie op versoek van die slagoffer.
Die verkragting het op 19 Februarie plaasgevind toe een van die mans omstreeks 22:00 sonder uitnodiging die vrou se huis in Power Town binnegegaan het.
Die man het die vrou op die bed neergegooi en haar met die oop hand oor die gesig geslaan voordat hy haar verkrag het. Hy het daarna haar huis verlaat, waarna ’n tweede man ingekom het. Hierdie man het die vrou ook verkrag. Die twee verkragters het ná die aanval vertrek.
Twee sake van verkragting is ná die voorval aanhangig gemaak, waarna die saak na die Mosselbaai-eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe oorgeplaas is. Speurdersersant Ntandaza Magoqwane het die ondersoek behartig.
Die slagoffer is baie verlig dat die saak ná vier jaar uiteindelik tot ’n einde gekom het.
Sy het gesê sy voel beter omdat die saak nou afgehandel is en die twee mans tronkstraf opgelê is. Die saak het lank geduur, maar sy ervaar nou afsluiting. Sy het bygevoeg dat dit vier jaar ná die aanval goed gaan met haar en dat haar familie en vriende haar ondersteun.
Die ondersoekbeampte in die saak, speurdersersant Ntandaza Magoqwane. Foto: Chelsea Pieterse
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’