Update
MOSSELBAAI NUUS - In ’n bestek van 48 uur sedert die brande in Aalwyndal begin versprei het, het ’n slangvanger 10 kobras, een pofadder en drie boomslange gevang soos hulle oor die paaie gevlug het om van die vlamme te ontsnap.
Volgens Devon de Villiers was dit chaos toe dié slange, soms twee of drie ’n slag, uit die bosse begin vlug het.
Hy sê hy het so naby as moontlik aan die teer- en grondpaaie gaan wag en gesien hoe die slange gedisoriënteerd uit die veld gekom het soos die vuur nader beweeg het.
“Ek het die meeste by die sterte gegryp en hulle net in ’n houer geplaas,” sê hy.
Devon de Villiers met een van die kobras wat hy gevang het nadat die slang van die brande in Aalwyndal gevlug het.
De Villiers sê dat sommige van hulle selfs in die rigting van die vuur beweeg het omdat hulle verward was.
“Daar was soveel slange dat ek net eenvoudig moes bymekaargooi - die boomslang in ’n buis en al die kobras in ’n swart houer. Dit was groot slange, tussen 1,2 m en 1,8 m - sommige bruin, ander geel of gespikkel.”
Devon de Villiers het geel, bruin en gespikkelde kobras gevang. Soms het daar tot drie gelyktydig oor die pad geseil om van die brand te vlug.
De Villiers sê slange wat onder sulke stresvolle omstandighede saam in ’n houer geplaas word sal mekaar nie aanval nie. “Daar was eenvoudig nie tyd om die slange individueel te hanteer nie,” sê hy.
Hy waarsku inwoners dat die slange wat van die brande vlug na woongebiede sal beweeg. “Hulle soek water en skuiling. Mense moet maar net op die uitkyk wees.”
Hierdie pofadder is ook gered.
Die slange sal op ’n privaat plaas by Leeukloof vrygelaat word, waar toestemming verkry is.
Indien inwoners slange wil laat verwyder kan De Villiers gekontak word by 076 781 0528.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’