Update
MOSSELBAAI NUUS - Ralph Taute (57), 'n geliefde inwoner wat onlangs in Fischerstraat, Asla Park, vermoor is, was 'n uitstaande rugbyspeler.
Taute, ook bekend as Lella of die Redder, soos baie van sy medespelers en vriende hom genoem het, was al van laerskooldae af gewild vir sy rugbytalent.
Van moederskant stam hy uit 'n rugbyfamilie wat gedurende hulle speeldae groot hoogtes bereik het.
Sy twee ooms, die legendariese spoedvraat Raymond Harris en die skrumskakel Willa Harris, het onderskeidelik vir die destydse SWD en die Oostelike Provinsie onder Saru se vaandel gespeel.
Taute was ewe tuis op losskakel en skrumskakel, wat van hom 'n wedstrydwenner gemaak het. Met sy insluiting in die Suid-Kaapse senior skolerugbyspan het baie rugbykenners van daardie era gemeen daar wag 'n blink toekoms op hom. Hy het vir hom 'n plek in die nasionale skolespan oopgespeel saam met nog 'n paar plaaslike leerlinge wat later ook groot hoogtes in senior rugby sou bereik. Onder hulle was Basil Duitsjan, Dan Stevens, Edwin Cupido, Pietie Smith, Bertie Saal en Gregory Jansen.
Ná skool het Taute sy senior rugbyloopbaan by die Springroses begin, 'n plaaslike rugbyklub wat in die vorige rugbybedeling 'n krag in die SWD was.
Op 'n jeugdige ouderdom, voor eenwording in Suid-Afrikaanse rugby, het Taute vir hom 'n plek in die SWD-span oopgespeel, wat op daardie stadium moeilik vir 'n ontluikende speler was, iets waarvan baie van sy medespelers kan getuig.
In 1992, toe die plaaslike rugbyklubs saamsmelt om Barbarians R.V.K. te stig, was Taute deel van hierdie geskiedkundige oomblik. Hy sou in die beginjare 'n groot rol in die Barbarians se welslae op die rugbyveld speel, en sou later opgeneem word in SWD se B-span, wat as die Bontebokke bekendgestaan het.
Rugbykenners uit daardie era is dit eens: Taute en 'n paar van sy spanmaats in die Bontebokke het 'n plek in SWD se A-span verdien! Dit was hulle egter nie beskore nie. Nietemin het hulle aanvallende rugby die verbeelding van baie rugbygeesdriftiges aangegryp, waar Taute aan die spits was.
Taute se roudiens is op Saterdagoggend 14 November gehou.
Vorige artikels:
- Accused in Ralph Taute murder to appear in court
- Mossel Bay man (57) killed, man (62) arrested
- Gemeenskap in rou ná Mosselbaaier se moord
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’