MOSSELBAAI NUUS - "Ek voel goed! Ek voel 100%."
Só sê die 104-jarige Ian Louw, 'n inwoner van Bardolino Care Centre in Dias, wat sy merkwaardige lewensreis steeds met 'n positiewe gesindheid aanpak.
In die loop van sy lang lewe het oom Ian twee keer afgetree, die verlies van sy geliefde vrou, Valerie, en sy dogter, Anita, beleef, maar ook die groot vreugde ervaar om vier kleinkinders en twee agterkleinkinders te sien grootword. Die jongste van hulle, klein André Horak (2), is 'n verstommende 102 jaar jonger as sy oupagrootjie!
Oom Ian het verlede Donderdag, 5 November, sy 104de verjaarsdag saam met sy familie by Bardolino gevier. Mossel Bay Advertiser het dié besondere geleentheid bygewoon en 'n bietjie met hom gesels.
Onder die familielede was sy seun, Daneel Louw, sy dogter, Elsa de Villiers, Elsa se dogter, Lirie Horak, Lirie se man, Hennie, en hul seuntjie, André.
Oom Ian is in 1922 gebore en het in Paterson in die Oos-Kaap grootgeword. Ná skool het hy na King William's Town verhuis, waar hy sy loopbaan as klerk begin het. Hy het later as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer en uiteindelik sy eie firma gestig.
Hy is in 1955 met Valerie getroud, en die egpaar het drie kinders gehad: Anita, wat verlede jaar onverwags oorlede is; Elsa, wat saam met haar man, Pieter, in Hartenbos woon; en Daneel, wat saam met sy vrou, Gerna, in Roodepoort woon.
Ian en Valerie Louw is in 1955 getroud.
Oom Ian het in 1994 afgetree. Slegs enkele maande later is Valerie oorlede, kort voordat die egpaar hul 40ste huweliksherdenking sou vier. Ná haar dood het hy besluit om weer by sy firma aan te sluit.
Bedrewe skut
Buiten sy professionele loopbaan was oom Ian ook aktief by die gemeenskap van King William's Town betrokke. Hy het ook 'n groot passie vir skietsport gehad en talle ure op die skietbaan deurgebring, waar hy hom as 'n bedrewe skut onderskei het.
Volgens Elsa het haar pa verskeie medaljes en trofeë in Bisley-styl-langafstandteikenskiet verower. Sy liefde vir die sport het hom selfs in 1996 na Engeland geneem, waar hy as lid van die Suid-Afrikaanse skietspan aan die bekende Bisley-skietkompetisies deelgeneem het.
Sy jare lange betrokkenheid en bydrae tot die gemeenskap en skietsport het nie ongesiens verbygegaan nie. In 2013, op 91-jarige ouderdom, het oom Ian 'n sertifikaat as senior burger van die jaar by die Oos-Kaap Rotariërklub ontvang, ter erkenning van sy diens aan die gemeenskap.
Ian Louw as 'n jong man.
Vier jaar later, op 95-jarige ouderdom, het die Oos-Kaapse jagtersvereniging hom ook vereer vir sy jare lange ondersteuning, sy rol in die ontwikkeling en uitbreiding van die sport en sy besondere bydrae daartoe.
In 2022, op 100-jarige ouderdom, het oom Ian vir 'n tweede en laaste keer afgetree en by die Bardolino Care Centre ingetrek, waar hy sedertdien woon.
Selfs toe het die werk nog nie heeltemal opgehou nie. Elsa vertel dat haar pa op 102-jarige ouderdom steeds van tyd tot tyd op sy rekenaar by die sentrum gewerk het, aangesien hy as eksekuteur van 'n boedel opgetree het.
Sy liefde vir Hartenbos het reeds in die 1970's begin, vertel oom Ian aan die Advertiser. Hy het destyds sy gesin gereeld vir kampeervakansies na die kus gebring - 'n verbintenis met die omgewing wat deur die jare behoue gebly het.
Daneel Louw, Lirie en Hennie Horak, Elsa de Villiers en André Horak by Ian Louw in die sentrum. Foto: Chelsea Pieterse
Hoewel sy gehoor deesdae nie meer so goed is nie, sê Elsa haar pa se verstand is besonder skerp. Hy stel steeds belang in wêreldgebeure en bly op hoogte van die nuus deur na aktualiteitsprogramme op die radio te luister.
Hy handhaaf ook 'n vaste daaglikse roetine en gaan elke middag om 16:00 saam met 'n vriend stap.
En wat is die geheim agter dié merkwaar-dige 104 jaar?
Volgens Elsa is dit waarskynlik 'n kombinasie van faktore: genade van die Here, 'n gesonde leefstyl en dieet, die feit dat haar pa nooit gerook het nie, matige alkoholverbruik, gereelde oefening, en veral 'n positiewe lewensuitkyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’