GEORGE NUUS - Eden se junior tennisspelers het goed gevaar tydens die interdistriklaerskool-tennistoernooi van Vrydag tot Sondag, 6 tot 8 November, toe spanne van Eden, die Wynlande, Drakenstein en Platteland teen mekaar te staan gekom het.
Die onderskeie ouderdomsgroepe het in vier dorpe deelgeneem. Die o. 10-span het in Moorreesburg gespeel, die o. 11's in Ceres, die o. 12's in Hermanus en die o. 13's in Robertson.
Ondanks die reën wat die wedstryde herhaaldelik onderbreek het, kon die spelers hul wedstryde voltooi.
Eden se o. 13-span het die eerste plek in hul ouderdomsgroep verower, terwyl die o. 10-span tweede, die o. 12-span derde en die o. 11-span vierde geëindig het.
Dié uitslae het aan Eden 'n algehele tweede plek in die gekombineerde ouderdomsgroepuitslae besorg.
Ettiene van Zyl, voorsitter van Eden Junior Tennis, sê hy is trots op die spelers wat die streek verteenwoordig het.
"Dit verg baie toewyding, harde werk en deursettingsvermoë om op hierdie vlak mee te ding, veral onder uitdagende weersomstandighede. Elke speler het Eden se naam met trots gedra."
Van Zyl het ook die ouers bedank wat groot afstande afgelê het om hul kinders die geleentheid te bied om aan die toernooi deel te neem. "Ek besef en waardeer die opoffering wat elke ouer maak om hul kinders se tennisdrome te ondersteun. Die kilometers wat afgelê word, die tyd wat afgestaan word en die finansiële belegging in ons juniors se ontwikkeling beteken baie. Hierdie ondersteuning speel 'n onmisbare rol in die groei en ontwikkeling van Eden-tennis."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’