Breaking News Update
MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van die Num Num Landgoed se boonste gedeelte in Mosselbaai is na bewering aangesê om hul wonings te ontruim.
Voorsitter van die Huiseienaarsvereniging, Gert de Wet het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig die polisie het opdrag aan huiseienaars van die boonste gedeelte van die landgoed gegee om te ontruim.
De Wet sê brandweerdienste is op die toneel en ‘n helikopter vlieg oor die gebied.
Hy sê indien almal moet ontruim sluit dit 62 huise in en ongeveer 300 mense in.
Volgens De Wet sal die ontruimingsplan behels dat inwoners eers van bo af ontruim word.
Hy sê die hekke is intussen permanent oopgemaak, en inwoners is aanbeveel om deur die hekke te beweeg en aan te hou ry om verkeersopeenhopings te vermy.
De Wet sê die wind is op hierdie stadium genadig en waai weg van die gebied af, maar sê dat die situasie vinnig kan verander indien die wind sou draai.
* Die Mosselbaai Munisipaliteit sê egter geen oproep om enige gebiede in die brandgebied te ontruim is gemaak nie en is inwoners in Num Num aangeraai om deure en vensters toe te maak. Die munisipaliteit sê ‘n brandbestrydingspan is teenwoordig in Num Num. Lugbrandbestryding het begin. Dit is bevestig dat daar geen brand in Num Num is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’