Update
MOSSELBAAI NUUS - ’n Inwoner van Vakansieplaas wat gisteraand sy huis moes ontruim, Stuart Atkinson, het sy angswekkende ervaring met Mossel Bay Advertiser gedeel.
Atkinson is een van die gelukkige inwoners wie se woning nie afgebrand het nie.
Ander inwoners van die woongebied was egter nie so gelukkig nie - ná beraming het meer as 10 huise afgebrand.
Atkinson sê hy was in Beaufort-Wes toe die brand begin het en het eers besef hoe ernstig dit is toe hy deur die Robinsonpas ry en die rook sien. “Tóé het ek geweet dit is nie snaaks nie - dit was baie erger as wat ek gedink het.”
Hy beskryf hoe vinnig dinge gebeur het en hoe mense onder druk verward raak.
Hierdie is die gesig wat gewag het op inwoners wat Vakansieplaas moes ontruim het.
“Jy weet nie wat om te vat en wat om te los nie. Ek het seker 10 minute rigtingloos deur my huis geloop en net goed in my sakke gedruk. ’n Mens raak soos ’n eekhoring - jy wil alles red.”
Atkinson sê die brandweer het die inwoners ’n paar minute gegee om te ontruim.
“Jy het geen keuse nie. Die hitte van die vlamme en die geluid wanneer die vuur aankom is onbeskryflik.”
Atkinson sê die vuur het baie vinnig beweeg. “Dit was ’n kwessie van 20 minute. Een oomblik help ek my buurvrou pak en die volgende oomblik is die vuur by haar huis.”
Hy sê dit het hom diep geraak om Vogelsang so te sien brand.
“Aan die einde van die dag vat jy net ’n paar goed en jy ontruim. Jy vergeet alles.”
Sommige mense het glo selfs hul motorsleutels in hul huise vergeet, waarna die voertuie afgebrand het.
Ten spyte van die verwoesting sê Atkinson was die gemeenskap se ondersteuning ongelooflik.
“Ek het honderde oproepe en boodskappe gekry. Dit was oorweldigend. Die behoefte van ander plaaslike Mosselbaaiers om hulp aan te bied was verstommend.”
Die inwoners van Vakansieplaas kon Woensdagoggend na hulle wonings terugkeer.
“Nou moet ons net die stukke optel,” sê Atkinson.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’