Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Wanneer Curro Mosselbaai se Mian Hurter nie agter die boeke gesit het om sy agt onderskeidings te verdien nie, het hy ontlaai deur op 'n kitaar "geraas te maak" of om musiek te luister, veral Elvis Presley.
"Die vooraf wag vir die uitslae is maar stresvol, maar dit voel meer soos 'n antiklimaks as 'n klimaks. Na 'n jaar van harde werk en assesserings en toetse en seremonies voel die weke se gewag soos 'n onwerklikheid.
"Ná die tyd is dit 'n groot verligting, maar ek dink die finale aanbod vanaf die universiteit sal almal se gemoed bepaal."
Hurter se onderskeidings was vir onder meer rekeningkunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe en dan ook gevorderde wiskunde as ekstra vak.
Daardie ekstra wiskunde gee ook 'n leidraad vir wat sy studies sal behels. "Ek beplan om voorlopig 'n graad in besigheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad te gaan swot. Spesifiek in die aktuariële wetenskappe. Ek dink dis 'n goeie platform om vanaf weg te spring. Verder is daar baie wiskunde betrokke, wat ek nogal as vak geniet het."
VIDEO: Mian gesels met Linzetta Calitz die dag ná sy uitslae
In jou matriekjaar bly jy maar besig, sê hy. "Indien nie met die studies nie, dan met die beplanning vir die matriekafskeid of met sport of met die skoolkonsert of om die K53 te bemeester. Dit is wel nodig dat 'n mens met al hierdie gebeurtenisse tyd inruim om net te ontspan en weer 'n slag te kan dink."
En dis dán wanneer Hurter vir Elvis of die kitaar inspan.
Wat matriek se uitdagings betref reken hy een van die grotes is om gemotiveerd te bly. "Die wenstreep is so naby, die tyd saam met vriende so min, en die werk al so vervelig en uitgetrap ('n mens moet onthou dat van die matriekmodules reeds in gr. 11 behandel word) dat dit meer selfdissipline verg om agter die boeke in te skuif as ander jare."
Die hoogtepunt sê hy was definitief die Desember-vakansie. "Dit is die langste vakansie van my lewe, so ek kan nie kla nie."
Hurter se boodskap vir die matrieks van 2026 is kort en kragtig: "Matriek is kort - baie kort. Doen wat jy moet doen en geniet dit.
"Ek wil graag ook net dankie sê aan al my onderwysers oor die jare, my ouers en familie wat my ondersteun het, en al die mense en vriende wat bydra tot die pad wat ek stap. Baie dankie aan julle almal."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’