Update
MOSSELBAAI NUUS - Lorinda Stratford (42) van Aalwyndal sê gister was een van die mees angswekkende oomblikke in haar lewe toe die Mosselbaai-brande tot teen haar huis in Klipheuwel gewoed het.
“Ons sukkel al van gisteroggend af, maar net ná 09:00 het dit al hoe erger begin raak. Die vuur was om ons en toe draai die wind.
Ons was voorbereid, maar ons het nie geweet die vlamme gaan só vinnig kom nie,” sê sy.
Stratford beskryf ’n gevoel van totale magteloosheid.
“’n Mens voel so klein teen daardie massiewe vlamme, en jy weet jy kan niks doen nie. Jou kop werk net: wat vat jy en wat los jy? Ek het my paspoort en ID gevat en al die res agtergelaat - dit is maar aardse goed.”
Sy het groot lof vir die nooddienste.
“Airwolf Security was ongelooflik. Hulle het dadelik die brandweer ontbied elke keer as dit opgevlam het. Ek dink nie daar is ’n ander dorp met so ’n goeie brandweer nie. Hulle was op die toneel, het dit vinnig onder beheer gekry en het vir ons presies gesê wat om te doen.”
Hierdie foto van die brand wat nader kom is vanaf Lorinda se huis geneem.
Stratford sê die DBV het ook gehelp deur haar kat na veiligheid te neem.
Brenton en Lorinda Stratford.
Omdat hulle nie Aalwyndal kon verlaat nie, het die gesin na die vliegveld vertrek waar hulle tydelik gekamp het, terwyl die brandweer by hul huis op bystand gebly het.
“Wat my egter die meeste geraak het was die gemeenskap van Mosselbaai.
Ons het kos gekry, vriende het gehelp, en selfs mense wat ek glad nie ken nie het kom help om die vuur te bestry.
Ek het nog nooit gesien hoe Mosselbaai se gemeenskap só saamstaan nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’