Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Curro Mosselbaai se nommer twee man van 2025, Rowan Truckenbrodt, wag nog vir die finale aanbod van 'n universiteit, maar hy voorspel 'n beroep in die regte vir sy toekoms.
Hy het tydens Curro se vrystelling van die matriekuitslae vlugtig met Mossel Bay Advertiser gesels en heel gelukkig met sy uitslae en tweede posisie op die skool se top 10 gelyk.
"Ek is baie verbaas daarmee; dit gaan goed."
Die vakke wat hom in 2025 besig gehou het, het besigheidstudies, biologie, rekenaartoepassingstegnologie en Engels huistaal ingesluit.
Terugskouend het hy beaam: "Die jaar het nogal goed gegaan. Ek is baie bly en baie opgewonde oor my resultate."
VIDEO: Rowan gesels oor 2025 én 2026
Soos talle ander (amptelik) voormalige matrikulante is sy vooruitsigte vir 2026 om sy studies aan te pak. "Dié jaar wil ek graag gaan swot. Hopelik by Potch of by Stellenbosch, maar ons wag nog om te sien watter final offers ons gaan kry.
"Ek wil regte gaan swot. Ek het maar net altyd 'n passie daarvoor gehad; altyd uitgesien vir daai tipe werk."
Truckenbrodt het ook gelukkig verlede jaar nie nét gestudeer nie. "Ek het my vrye tyd maar baie met pelle spandeer; om strand toe te gaan en saam te kuier net om 'n bietjie te vergeet van die stres en van die skool."
Vriende en tyd saam met familie - dít was sy lekkerte tussen al die ander dinge wat met 'n matriekjaar gepaardgaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’