Update
MOSSELBAAI NUUS - Die dubbel moordverdagte, Stephen Lekoro (29) is vandag in die rondgaande Hooggeregshof op Mosselbaai skuldig bevind op al vier aanklagte teen hom.
Dit sluit in twee aanklagte van moord en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.
Lekoro het kop onderstebo na Regter Mark Sher se twee en ‘n half uur lange uitspraak geluister. Familielede van die Humans was ook in die hof en Sher moes op ‘n stadium die hofverrigtinge vir ‘n paar minute verdaag toe familielede emosioneel geraak het.
Sher het gesê die staat se getuienis wat deur senior staatsaanklaer Lenro Badenhorst gelei is, tel oorweldigend teen Lekoro. Sher het die getuienis van ‘n selfoondeskundige van MTN, Dharmesh Kanti, as krities beskryf.
Kanti het tydens sy getuienis verwys na 11 oproepe in ‘n tydperk van twee dae wat vanaf Lekoro se selfoon aan ‘n nommer in Lesotho gemaak is. Die nommer behoort aan dieselfde persoon, Tsokolo Maamohe in wie se rekening R14 000 op die oggend van die moorde vanaf die Humans se bankrekening na ‘n rekening in Lesotho oorgeplaas is.
Selfoontorings
Selfoontorings naby Sandhoogte het ‘n oproep opgetel wat op die oggend van die moorde in die omgewing van die Humans se woning, of by hulle woning, om 08:15 gemaak is. Die eerste oproep het vier sekondes geduur. Om 09:12 is nog ‘n oproep van twee sekondes lank na dieselfde nommer gemaak. Beide oproepe is volgens die getuienis beantwoord.
Sher het verwys na die ‘toeval’ van dié oproepe wat gemaak is kort nadat die R14 000 vanaf die Humans se bankrekening na die rekening in Lesotho oorgeplaas is. Verdere getuienis wat oorwegend teen Lekoro tel is die selfoonrekords wat daarop dui dat ‘n ander simkaart op die dag van die moord, kort nadat die geld oorgeplaas is, in mnr Human se selfoon geplaas is.
Sher het Lekoro se getuienis dat mnr Human die selfoon ‘n maand vroeër aan hom verkoop het, verwerp omdat die selfoonrekords daarop dui dat mnr Human se simkaart tot die dag van die moorde nog in die foon was.
Sher het Lekoro se vriend, Thamsanqa Sishuba (27) wat tans twee lewenslange vonnisse uitdien vir sy aandeel in die moord se getuienis as “yswekkend” beskryf. Hoewel Sher sê die hof Sishuba, wat ‘n selferkende misdadiger is, se getuienis teen Lekoro met omsigtigheid moet hanteer, het hy gesê die hof kan dit nie in geheel verwerp nie.
“Daar is ooreenstemmende aspekte rakende Sishuba en Lekoro se onderskeie getuienisse oor wat op die betrokke dag gebeur het.” Lekoro het tydens sy getuienis na wat Sher as ‘n “gemaklike” en “saaklike” wyse, verwys het, fyner besonderhede verskaf waarna Sher as die spreekwoordelike “ring of truth” verwys het.
Dit sluit in fyn besonderhede wat Sishuba volgens Sher moeilik sou kon opmaak, soos dat Lekoro die Humans se vragmotor aangeskakel het, om mnr Human se geluide nadat hy wreed aangeval is en nog gelewe het, te demp.
Sher het tydens die laaste gedeelte van sy uitspraak vir Lekoro gesê verskeie staatsgetuies het gesê dat Lekoro reeds die Maandag voor die moord reëlings getref het dat sy huis op Wolwedans opgepas word.
Hy het ook gesê ‘n beursie en handsak van die Humans wat Lekoro in sy woning agtergelaat het, nadat hy die sleutels van die woning vir Sishuba gegee het, dui daarop dat dit sy plan was om Sishuba met die moorde te verbind.
Vooraf beplan
Sher het gesê die moorde was koelbloedig en vooraf beplan. “Die beskuldige het na die moorde die bus na Bloemfontein geneem waar hy vir ‘n paar dae gebly het en in kontak gebly het met Sishuba om seker maak of die polisie op sy spoor is. Daarna het hy na Lesotho gevlug en R14 000 getrek.”
Sher het verwys na foto’s wat op ‘n Acer skootrekenaar wat “duidelik” aan mev Human behoort het en in Lekoro se besit gevind is, verwys.
Daarop staan Lekoro met twee skootrekenaars en poseer “trots” vir die kamera.
Vonnisoplegging begin op Maandag, 26 Augustus om 09:30.
Die Humans se dogter, Amor Pietersen was ook in die hof tydens die uitspraak en het na afloop gesê sy is dankbaar dat die hofsaak verby is en dat die reg geskied het.
“My ouers is nie vergeet nie en die hofsaak is ‘n bevestiging dat hulle lewens ook belangrik was.” Sy het haar dankbaarheid teenoor die staat se regspan uitgespreek. “Ons voel nou vir die eerste keer of ons kan begin aanbeweeg en die verlies kan verwerk.”
Lees vorige artikels:
- Double murder accused found guilty
- Slotbetoë in moordsaak gelewer
- Moordverdagte sukkel om vrae te beantwoord
- Moordverdagte trap klei in hof
- Moordverdagte begin getuienis
- Deurslaggewende getuienis in Humansaak
- Veroordeelde moordenaar gekruisondervra
- Veroordeelde moordenaar getuig vandag teen vriend
- Gru besonderhede oor moord op Humans
- Staat roep die eerste getuies
- Polisiebeampte wat eerste op moordtoneel kom getuig
- Getuie ken verdagte op foto's uit
- Humans het glo oor verdagte gestry
- Eerste getuie in dubbelmoordsaak geroep
- Verhoor van dubbelmoordverdagte begin
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'