MOSSELBAAI NUUS - Die verhoor van die 29-jarige Stephen Lekoro wat van die dubbele moord op die 72-jarige Tewie Human en sy 62-jarige vrou, Eurika verdink word, gaan steeds voort in die rondgaande hoërhof op Mosselbaai.
Die Humans is op 14 Junie 2016 wreed by hulle woning in Sandhoogtepad op Groot-Brakrivier vermoor.
Lekoro het vir die Humans se rioolonderneming gewerk en het op Wolwedans gewoon. Sy vriend, die 27-jarige Thamsanqa Sishuba, ook 'n inwoner van Wolwedans, dien tans twee lewenslange vonnisse uit vir sy aandeel in die moord op die Humans. Sishuba het deurgaans tydens sy verhoor voor regter Robert Henney skuld ontken.
Lekoro ontken skuld op al vier aanklagte teen hom. Dit sluit in roof met verswarende omstandighede en moord. Hy voer aan hy was op die dag van die moord by die Humans se huis en het aan regter Mark Sher gesê hy en Tewie het na bewering 'n woordewisseling gehad omdat Lekoro die verkeerde tipe olie in 'n masjien gegooi het. Lekoro sê in sy pleitverduideliking dat Tewie hom na bewering vir die betrokke dag gevra het om 'n "ekstra hand" saam te bring en dat hy Sishuba saam na die huis geneem het. Hy beweer Tewie het hom tydens die woordewisseling by die motorhuis met die vuis geslaan waarna hy (Lekoro) Tewie eenkeer met 'n mes gesteek het wat hy op die werktoonbank gekry het. Volgens sy pleitverduideliking het Sishuba toe vir Tewie met 'n kapmes aangerand waarna hy (Lekoro) gevlug het. Lekoro pak die skuld op Sishuba en beweer dat hy nie teenwoordig was tydens die moord en roof nie. Hy sê hy het gevlug omdat hy geweet hy is in die moeilikheid.
Foto's by vulstasie
Lekoro het kort na die moord na Lesotho gevlug en is in November 2018 in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat hy teruggekeer het na Suid-Afrika. Foto's wat deur sekuriteitskameras by 'n vulstasie op Mosselbaai geneem is, is die afgelope week aan verskeie staatsgetuies gewys. Dit wys hoe Lekoro, wat deur die getuies op drie foto's geïdentifiseer is, 'n dag na die moord, op 15 Junie, 2016 met bagasie deur die vulstasie stap en vir hom 'n buskaartjie koop. 'n Vriend van Lekoro het tydens die verhoor getuig dat hy Lekoro toevallig op die dag by die vulstasie raakgeloop het. Die getuie, wat 'n taxibestuurder is, het aan die hof gesê dat hy 'n bagasiesak vir Lekoro gedra het en dat Lekoro hom ingelig het dat hy na Bloemfontein gaan omdat sy broer glo siek was. Hy het aan adv Lenro Badenhorst gesê dat Lekoro gespanne voorgekom het en dat hy baie gerook het. Hy het ook gesê Lekoro het by die vulstasie vir hom 'n mus gekoop wat hy oor sy kop kon trek. 'n Werkgewer van die busdienste het getuig dat sy 'n buskaartjie na Lesotho aan Lekoro verkoop het. Hy het glo kontant vir die kaartjie betaal.
Humans glo oor verdagte gestry
Die Humans se skoonseun ds Gerhard Pietersen het tydens sy getuienis aan regter Sher gesê sy skoonouers het tydens die Aprilvakansie kort voor die moord gereeld oor Lekoro gestry. Eurika het volgens Pietersen verskeie kere laat blyk dat sy nie gemaklik is met Lekoro nie en dat sy nie gehou het daarvan dat hy by die huis sou instap om sy kos in die mikrogolfoond warm te maak, sonder om aan die deur te klop nie. Volgens Pietersen het Tewie egter vir Lekoro opgekom. Die Humans is vier dae na die moord gevind nadat 'n jarelange vriendin, Doretha Wilson onraad vermoed het. Wilson het getuig dat die Humans nie hulle selfone geantwoord het nie en ook nie op boodskappe gereageer het nie. Sy is na die woning waar sy gesien het dat die Humans se twee honde, 'n Yorkie en 'n Staffordshire Terriër na die deur gehardloop het en die gordyn voor die deur opgelig het.
Die sekuriteitsmaatskappy, Suiderkruis en die Groot-Brakrivier-polisie is na die toneel ontbied. Eurika het op die egpaar se bed gelê en is met 'n mes gesteek. Tewie se liggaam is in die motorhuis gevind. Hy is minstens sewe keer met 'n kapmes aangeval en twee keer met 'n mes gesteek. 'n Tweede getuie van Absa-bank het getuig dat R14 000 om 20:20 dieselfde aand van die moord vanuit Tewie se bankrekening oorgeplaas is na 'n FNB-rekening.
Die saak duur volgende week voort.
Lees vorige artikels:
- Polisiebeampte wat eerste op moordtoneel kom getuig
- Getuie ken verdagte op foto's uit
- Humans het glo oor verdagte gestry
- Eerste getuie in dubbelmoordsaak geroep
- Verhoor van dubbelmoordverdagte begin
- Double murder accused back in court
- Voortvlugtige moordverdagte vasgetrek
- Vermeende 'meesterbrein' vas na 2 jaar
- Groot-Brakrivier moordenaar in hegtenis
- Groot-Brak moordenaar swaar gevonnis
- Double murder: man found guilty
- Verdagte getuig vandag
- Eurika Human vermoedelik dadelik dood
- Human-moorde: verdagte pleit onskuldig
- Human-moorde: hofverrigtinge 'emosioneel'
- Groot-brak dubbele moord: familie by hof
- Dubbele moord: verdagte vandag in hof
- Groot-Brak-moorde: saak uitgestel
- Gru-moorde: Man in hof vir borgaansoek
- Opvolg: Verdagte in hof vir gru-moorde
- Groot-Brak gru-moorde: Verdagte in hof
- Verdagte vir Groot-Brak-egpaar se moord aangekla
Die verdagte, Stephen Lekoro.
Hierdie foto is aan verskeie getuies in die hof gewys waar die verdagte, Stephen Lekoro (links) met bagasie na die vulstasie loop. Die persoon regs is 'n vriend wat hy toevallig by die vulstasie raakgeloop het en wat hom met sy bagasie gehelp het.
Die ondersoekbeampte in die saak ao Gerald Rabie op die toneel waar die egpaar vermoor is. Die foto is tydens die polisie se forensiese span se besoek aan die toneel geneem. Foto: Louise Karsten
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'