Update
MOSSELBAAI NUUS - "Ons het baie lank, baie intens gewerk om dié persoon op te spoor." Só berig Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie oor die inhegtenisname van die voortvlugtende verdagte, Lebohang Lekoro (28) wat as die meesterbrein beskryf is agter die grusame dubbele moord van Tewie (72) en Eurika Human (62) in hul woning op Groot-Brakrivier.
Die Humans se liggame is op 14 Junie, 2016 ontdek. Tewie is in die egpaar se motorhuis met 'n panga doodgeslaan en Eurika is binne die huis twee keer met 'n mes gesteek, nadat sy vermoedelik eers gedwing is om R14 000 na 'n bankrekening in Lesotho oor te plaas. Haar liggaam is op die bed gevind.
Die Humans se twee honde is in die woning toegesluit en die moord is volgens nadoodse ondersoeke reeds 'n paar dae voor die liggame ontdek is, gepleeg.
Niemand het egter onmiddelik onraad vermoed nie, aangesien die moordenaars die Humans se voertuig ná die aanval in die motorhuis getrek het. Die woning se deure was ook van buite gesluit.
Vertroue
Lekoro het vir die Humans gewerk en hulle het hom dus vertrou. Hy kon daarin slaag om die polisie vir twee jaar te ontduik en het ná die moord oor die grens na Lesotho gevlug.
Sy medebeskuldigde, Thamsanqa Sishuba (27) wat in Wolwedans op Groot-Brakrivier aangebly het, is intussen in 2017 in die rondgaande hoër hof op Mosselbaai, twee lewenslange vonnisse opgelê vir sy aandeel in die dubbele moord. Sishuba het deurgaans ontken dat hy van die motief geweet het. Hy het sy weergawe in die hof verskeie kere verander en het al die blaam op Lekoro geplaas.
Tóg het regter Robert Henney tydens sy uitspraak dit aan Sishuba gestel dat 'n vingerafdruk hom met die moordtoneel verbind het, en dat hy vroegdag toe dit nog donker was, in die Humans se motorhuis weggekruip het omdat hy van Lekoro se modus operandi bewus was.
Eurika en Tewie Human.
Sishuba het later erken dat hy glo in opdrag van Lekoro, Tewie een keer met die panga geslaan het.
Regter Henney het hom skuldig bevind op twee aanklagte van moord omdat hy medepligtig was en geweet het dat hulle die egpaar gaan doodmaak.
Onverpoosd gewerk
Die ondersoekbeampte in die saak, ao Gerald Rabie en sy kollega, ao Paul Scheepers van die Groot-Brakrivier-polisiestasie het sedert die moorde onverpoosd saam met Interpol gewerk om Lekoro vas te trek.
Die Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat daar onder meer van informante gebruik gemaak is om Lekoro se bewegings tussen Lesotho en Suid-Afrika te volg. Die groot fout wat Lekoro gemaak het was om Lesotho te verlaat en na Bloemfontein, waar hy na bewering familie het, te reis.
Dit het glo baie papierwerk en moeite gespaar omdat 'n uitruilooreenkoms met Lesotho tyd in beslag sou neem. Lekoro is op Vrydag, 23 November in Bloemfontein gearresteer en het die naweek in die aanhoudingselle van die Groot-Brakrivier-polisiestasie deurgebring.
Thamsanqa Sishuba (27) dien reeds twee lewenslange vonnisse uit.Foto: Louise Karsten
Verheug
Familie van die Humans is verheug oor die inhegtenisname. Hulle het deurgaans Sishuba se hofsaak bygewoon en het in 'n stadium hul frustasie uitgespreek oor die ander moordverdagte wat steeds op vrye voet was.
'n Skoonseun van die Humans, ds Gerhard Pietersen sê die familie is verlig oor Lekoro se in hegtenisname. "Een deel is klaar en nou kan die familie begin om die hele proses af te sluit."
'n Netjies geklede Lekoro het op Dinsdag, 27 November in die hof op Groot-Brakrivier verskyn op onder meer twee aanklagte van moord.
Hy bly in aanhouding tot 11 Januarie, 2019.
Adjudant-offisier Gerald Rabie en sy kollega, ao Paul Scheepers het die saak ondersoek.
Lees vorige artikels hier:
- Vermeende 'meesterbrein' vas na 2 jaar
- Groot-Brakrivier moordenaar in hegtenis
- Groot-Brak moordenaar swaar gevonnis
- Double murder: man found guilty
- Verdagte getuig vandag
- Eurika Human vermoedelik dadelik dood
- Human-moorde: verdagte pleit onskuldig
- Human-moorde: hofverrigtinge 'emosioneel'
- Groot-brak dubbele moord: familie by hof
- Dubbele moord: verdagte vandag in hof
- Groot-Brak-moorde: saak uitgestel
- Gru-moorde: Man in hof vir borgaansoek
- Opvolg: Verdagte in hof vir gru-moorde
- Groot-Brak gru-moorde: Verdagte in hof
- Verdagte vir Groot-Brak-egpaar se moord aangekla
- Opvolg: Verdagte vir Groot-Brak gru-moord
- Man vir Groot-Brak gru-moorde gearresteer
- Groot Brak gru-moorde: Roudiens Dinsdag
- Groot Brak gru-moorde: Honde bly agter
- Groot Brak gru-moorde: Skoonseun praat
- Groot Brak gru-moord: Ondersoek duur voort
- Opvolg: Groot Brak gru-moord
- Opvolg: Groot Brak-egpaar wreed vermoor
- Groot-Brakrivier-egpaar wreed vermoor
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier nuus'