MOSSELBAAI NUUS - Senior staatsadvokaat, Lenro Badenhorst het vandag op Maandag, 19 Augustus met kruisondervraging begin in die rondgaande Hooggeregshof op Mosselbaai waar die 29-jarige Stephen Lekoro tereg staan op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.
Lekoro word daarvan verdink dat hy die baasbrein agter die dubbelmoord van die 72-jarige Tewie Human en sy 62-jarige vrou Eurika is. Die Humans is wreed by hulle woning op Groot-Brakrivier in Junie, 2016 vermoor.
Badenhorst het vandag bewyse van DNS-resultate wat ooreenstem met Lekoro s’n en wat op ‘n leë pakkie Simba-tjips op die moordtoneel gevind is, by die hof ingedien. ‘
'n Baadjie wat op die toneel gevind is en waarvan DNS-monsters geneem is, se DNS het ook met dié van Lekoro s’n ooreengestem.
Lekoro het vandag begin getuig. Hy het skool gegaan in Lesotho en het die skool in graad 5 verlaat. Lekoro het Lesotho verlaat toe hy 19 jaar oud was en het na die Vrystaat getrek. In 2014 het hy na Groot-Brakrivier getrek waar hy op Wolwedans gewoon het. Hy het kort daarna vir die Humans begin werk en beweer dat hulle goed oor die weg gekom het.
Dag van moord
Lekoro beweer dat mnr Human hom gevra het om hulp saam te bring en dat hy sy vriend, Thamsanqa Sishuba, wat tans twee lewenslange vonnisse uitdien vir sy aandeel in die moord, op die dag van die moord na die Humans se huis geneem het. Hy beweer dat hy en Sishuba vir mnr Human in die motorhuis gewag het en dat hy olie in ‘n masjien gegooi het. Volgens Lekoro het mnr Human hom vervies omdat dit die verkeerde olie was en na bewering aan Lekoro gesê dat hy sy goed opmors en dat Lekoro hom aan die einde van die maand moet betaal. Hy het aan Regter Mark Sher gesê dat mnr Human hom aan sy bors gegryp het en hom met die vuis teen die kop geslaan het. Lekoro het aan die hof gesê dat hy mnr Human toe een keer met ‘n mes, wat naby hulle op ‘n werktafel gelê het, gesteek het. Hy sê Sishuba het mnr Human toe met ‘n panga aangeval waarna hy (Lekoro) gevlug het. Hy sê hy gevlug omdat hy bang was vir wat mnr Human aan hom sou doen.
Badenhorst het vanmiddag met kruisondervraging begin en sit dit na middagete voort.
Lees vorige artikels:
- Deurslaggewende getuienis in Humansaak
- Veroordeelde moordenaar gekruisondervra
- Veroordeelde moordenaar getuig vandag teen vriend
- Gru besonderhede oor moord op Humans
- Staat roep die eerste getuies
- Polisiebeampte wat eerste op moordtoneel kom getuig
- Getuie ken verdagte op foto's uit
- Humans het glo oor verdagte gestry
- Eerste getuie in dubbelmoordsaak geroep
- Verhoor van dubbelmoordverdagte begin
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'