Update
MOSSELBAAI NUUS - Deurslaggewende getuienis is vandag tydens die verhoor van die 29-jarige Stephen Lekoro in die rondgaande Hooggeregshof op Mosselbaai aan Regter Mark Sher deur die staat voorgelê.
Lekoro word daarvan verdink dat hy die baasbrein agter die dubbelmoord van ‘n egpaar van Groot-Brakrivier, Tewie Human (72) en Eurika (62) was.
Die Humans is by hulle woning in Sandhoogtepad in Junie, 2016 grusaam vermoor. Tewie is met ‘n panga aangeval en Eurika is op die egpaar se bed met ‘n mes gesteek. Lekoro het vir die Humans by hulle rioolonderneming gewerk en het na die aanval na Lesotho gevlug.
Hy is verlede jaar in November in Bloemfontein in hegtenis geneem. Lekoro pleit onskuldig op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede en het in ‘n pleitverduideliking aan die hof gesê dat hy na ‘n rusie met Tewie, hom een keer met ‘n mes gesteek het en toe van die toneel gevlug het. Hy plaas die blaam op sy vriend, die veroordeelde moordenaar, Thamsanqa Sishuba (27) wat tans twee lewenslange vonnisse uitdien vir sy aandeel in die moord. R14 000 is na die moord vanuit die Humans se bankrekening na ‘n rekening in Lesotho oorgeplaas.
Die rekeninghouer, ene Tsokolo van FNB Lesotho se nommer is op Lekoro se foon gevind onder 'n ander naam. Die R14 000 is in sy rekening inbetaal.
Foto’s
Twee skootrekenaars, ‘n Acer en ‘n Samsung asook selfone is onder meer van die Humans gesteel. Vandag het staatsadvokaat Lenro Badenhorst, Speurder Kaptein Adriana Nigrini van die Suid-Afrikaanse polisiediens se Direktoraat Prioriteit Misdaad Ondersoekeenheid na die getuiebank geroep. Nigrini het getuig dat die Acer wat die polisie in Lekoro se besit gevind het aan haar oorhandig is.
Nigrini kon daarin slaag om in die forensiese labratorium data van die Acer en een van die selfone af te laai. Sy het aan die hof verduidelik dat sy die rekenaar se hardeskryf gekloon het. Dokumentasie op die Acer het in drie geel ‘folders’ gelê wat deur die adminstrateur van die rekenaar geskep is. Die 'folders' is: Eurika Human, Lekoro en ‘Public’.
‘n Groot verskeidenheid foto’s van Lekoro waar hy met ‘n Acer en ‘n Samsung skootrekenaar poseer is vanaf ‘n Samsung selfoon geneem en op die Acer afgelaai. Daar is ook ‘n groot verskeidenheid foto’s van vuurwapens, een waar minstens twaalf vuurwapens op ‘n rooilap uitgestal lê. Dié foto is nie in die hof bespreek nie maar het in die folder gelê.
Foto’s van wit stene, wat soos diamante lyk is ook op die rekenaar gevind. Daar is ook foto’s van Lekoro saam met ‘n vrou en ‘n seun. Foto’s van mans in balaclavas en ‘n man wat ‘n rol geldnote vashou is ook gekry. Nigrini het aan Regter Sher verskillende foto’s gewys van rolle R100 en R200 geldnote asook geldnote in ‘n sak.
Die meeste van die foto’s is tussen Januarie en Junie 2017 geneem.
Regter Sher het aan Lekoro se regsverteenwoordiger, adv. Dawie Scholtz gevra of die foto’s van die persoon op die foto’s wel Lekoro is waarop Lekoro dit bevestig het. Daar is ook in die folders dokumentasie van die Humans gevind. Dit sluit onder meer in afskrifte van hulle identiteitsdokumente en ‘n foto waar twee mans by ‘n vragmotor staan.
Die saak duur môre voort.
Hierdie foto's is op die Acer skootrekenaar wat in die verdagte, Stephen Lekoro se besit gevind is, gekry.
Lees vorige artikels:
Veroordeelde moordenaar gekruisondervra
- Veroordeelde moordenaar getuig vandag teen vriend
- Gru besonderhede oor moord op Humans
- Staat roep die eerste getuies
- Polisiebeampte wat eerste op moordtoneel kom getuig
- Getuie ken verdagte op foto's uit
- Humans het glo oor verdagte gestry
- Eerste getuie in dubbelmoordsaak geroep
- Verhoor van dubbelmoordverdagte begin
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'