Update
MOSSELBAAI NUUS - Dubbelmoordverdagte, Stephen Lekoro (29) het vandag tydens kruisondervraging deur senior staatsadvokaat, Lenro Badenhorst erg klei getrap in die rondgaande Hoërhof op Mosselbaai.
Lekoro word beskou as die meesterbrein agter die grusame moord op ‘n egpaar van Groot-Brakrivier, Tewie Human (72) en Eurika (62) wat in Junie 2016 by hul woning in Sandhoogtepad met ‘n panga en ‘n mes vermoor is.
Lekoro het vir die Humans gewerk en het kort na die moorde na Lesotho gevlug. Hy is verlede jaar in November in hegtenis geneem.
R14 000 is op die dag van die moorde uit die Humans se bankrekening na ‘n rekeninghouer, Tsokolo Maamohe se FNB-rekening in Lesotho oorgeplaas. ‘n Acer-skootrekenaar en selfone is onder meer by die Humans gesteel.
Lekoro voer aan dat hy wel op die dag van moorde by die Humans se huis was en beweer hy het Tewie een keer met ‘n mes gesteek nadat dié hom na bewering met die vuis geslaan het. Lekoro plaas die blaam vir die roof en moorde op sy vriend, Thamsanqa Sishuba wat tans twee lewenslange vonnisse uitdien vir sy aandeel in die moorde.
Hy beweer Sishuba het die Humans vermoor en verskeie items gesteel, asook die R14 000 na die rekening in Lesotho oorgeplaas.
Kruisondervraging
Badenhorst het Lekoro tydens kruisondervraging uitgevra oor die rekeningnommer wat Tsokolo by FNB in Lesotho geopen het. Lekoro beweer dat hy en Tsokolo saamgewerk het sedert 2008 en dat hy (Lekoro) nie ‘n bankrekening gehad het nie en sy salaris daarom in Tsokolo se rekening oorgeplaas het omdat die plek waar hulle saamgewerk het vereis het dat sy salaris in ‘n bankrekening geplaas word.
Hierop het Badenhorst aan Lekoro gesê die bankrekening is eers in Januarie 2015 deur Tsokolo geopen.
Badenhorst het Lekoro gevra hoe hy toegang tot die kontant sou kry as die rekening in Lesotho is, en hy (Lekoro) op Groot-Brakrivier woon.
Selfoonrekords
Lekoro beweer dat hy ‘n Samsungfoon by Tewie gekoop het en dat hy die foon in sy besit gehad het, asook ‘n foon wat hy by Sishuba gekry het, toe hy Groot-Brakrivier verlaat het.
Badenhorst het gevra hoe Sishuba die rekeningbesonderhede van Tsokolo sou kon kry as die foon aan Lekoro behoort het. Badenhorst het dit aan Lekoro gestel dat daar op 4 Julie 2016, R4 000 uit die rekening in Lesotho getrek is en weer op 14 Julie, ‘n bedrag van R10 000. “Presies die bedrag wat van die Humans se rekening oorgeplaas is.”
Lekoro beweer dat Tsokolo nie tydens dié ontrekkings in Lesotho was nie maar in Bloemfontein.
Badenhorst het aan Lekoro gevra wie die R14 000 uit die rekening sou trek as dit nie hy (Lekoro) was wat hom op daardie tydstip in Lesotho bevind het nie, waarop Lekoro geantwoord het dat hy nie weet nie. Badenhorst het gevra of Tsokolo enigsins aan Lekoro genoem het dat daar ‘n bedrag van R14 000 in die rekening betaal is.
Hierop het Lekoro geanwoord: “Nee, niks.”
Badenhorst het Lekoro gevra hoe Sishuba dan sou baat by die R14 000 as hy wat Sishuba was dan op Groot-Brakrivier agtergebly het. “As mnr Sishuba daarvoor verantwoordelik was om die geld oor te plaas na Tsokolo se rekening sou dit sin maak vir hom (Sishuba) om na Lesotho te gaan, want dit is waar die geld is."
Lekoro het aan die hof gesê dat dit moontlik nog 'n manier van Sishuba was om hom by daad te impliseer.
Regter Mark Sher het Lekoro gevra hoe dit moontlik is dat indien Tsokolo die kaarthouer van die rekening was, die geld uit Lesotho getrek kon word as Tsokolo nie tydens daardie tydperk in Lesotho was nie, maar Lekoro wel.
Oproepe
Badenhorst het Lekoro uitgevra oor die minstens 11 oproepe wat na die dubbelmoord vanaf Lekoro se foon na Thokolo gemaak is. Op 14 Junie 2016 - op die dag van die moorde om 08:15 - is ‘n oproep van 4 sekondes na Thokolo gemaak.
Lekoro beweer dat hy toe in Sandhoogtepad geloop het nadat hy uit die motorhuis van die Humans gevlug het en Sishuba Tewie met ‘n panga aangeval het.
“Die laaste wat jy gesien het is mnr Sishuba wat jou werkgewer met ‘n panga aanrand. Wat was die doel van die 4 sekonde oproep? Hoekom so ‘n kort oproep?”
Lekoro beweer dat hy geld by Thokolo wou leen omdat hy uit Groot Brak wou vlug omdat hy glo bang was vir wat Tewie aan hom sou doen na die messteek voorval.
“Vyf minute nadat R14 000 in Thokolo se bankrekening geplaas is maak jy ‘n foonoproep na hom, is dit nie vir jou vreemd nie?”
Lekoro het dieselfde oggend nóg oproepe na Thokolo gemaak en ook na Sishuba. Hy beweer dat hy reggekom het met geld toe Sishuba glo die aand vir hom R1800 gebring het asook ‘n Acer skootrekenaar en ‘n selfoon met die opdrag om Groot Brak te verlaat.
Badenhorts het Lekoro uitgevra oor nog oproepe wat na Sishuba en Thokolo gemaak is maar Lekoro kon nie ‘n sinvolle verduideling daarvoor gee nie.
Die saak duur môre voort.
Lees vorige artikels:
- Moordverdagte begin getuienis
- Deurslaggewende getuienis in Humansaak
- Veroordeelde moordenaar gekruisondervra
- Veroordeelde moordenaar getuig vandag teen vriend
- Gru besonderhede oor moord op Humans
- Staat roep die eerste getuies
- Polisiebeampte wat eerste op moordtoneel kom getuig
- Getuie ken verdagte op foto's uit
- Humans het glo oor verdagte gestry
- Eerste getuie in dubbelmoordsaak geroep
- Verhoor van dubbelmoordverdagte begin
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'