Update
MOSSELBAAI NUUS - Die staat het op Woensdag, 21 Augustus slotbetoë gelewer in die saak van die Lesotho-burger, Stephen Lekoro (29) wat aangekla word van die grusame moord op ‘n egpaar van Groot-Brakrivier, Tewie Human (72) en sy vrou, Eurika (62).
Senior staatsaanklaer, advokaat Lenro Badenhorst het die hof gevra om Lekoro skuldig te bevind op twee aanklagte van moord en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.
Badenhorst sê dit is duidelik vanaf die foto's wat op Lekoro se rekenaar gevind is, dat hy 'n liefde gehad het vir diamante en kontant, en dat hy gierig was. Badenhorst het na Lekoro se vriend, Thamsanqa Sishuba se getuienis verwys waarin Sishuba sê die plan was om die Humans aan te val en te beroof.
“Van die begin af was dit die plan om niemand lewend te los nie omdat die Humans die beskuldigde en die beskuldigde in die vorige saak geken het.”
Badenhorst het ook verwys na die aantal getuienisse wat tydens die verhoor gelewer is, waartydens Lekoro verskeie mense die Maandag voor die moorde gevra het om na sy huis op Wolwedans te kyk en dat dit dus ‘n aanduiding was dat die aanval vooraf beplan is.
“Die dagboek van die Humans wys dat daar op die dag van die moorde slegs twee afsprake was en die verdagte sou dus beskikbaar gewees het om in die tuin ook te werk.” Lekoro beweer mnr Human het hom gevra om hulp saam te bring sodat 'n ekstra persoon tuinwerk kon doen.
"Die laat onthulling wat Lekoro tydens kruisondervraging gemaak het waarin hy beweer dat mnr Human en hy na die twee afsprake nog werk by die karavaanpark op Friemersheim moes doen, is ‘n fabrikasie en hy hardloop rond in sy getuienis.”
Badenhorst sê Lekoro se getuienis dat Tewie hom op drie verskillende geleenthede aangerand het, is ‘n desperate poging om die geweldadige aanval op die egpaar te regverdig.
Aanval
"Indien die beskuldigde se weergawe wel die waarheid is, moet 'n mens vra hoekom die beskuldigde sulke uitermatige geweld toegepas het deur mnr Human met 'n mes te steek- 'n daad van ekstreme geweld waar hy vir mnr Human gewerk het, vir wie hy sê hy lief gehad het," het Badenhorst aangevoer.
"Wat werklik gebeur het is wat mnr Sishuba getuig het en dit is dat die aanval van agteraf plaas gevind het." Badenhorts het ook verwys na die aantal oproepe wat na die rekeninghouer in Lesotho, Thokolo Maamohe op die dag van die moorde gemaak is.
"Dit was in die belang van die beskuldigde om naby in kontak met die rekeninghouer te bly sodat hy sy geld kon kry. Hy was ook teenwoordig in Lesotho op die 4de Julie, 2016 en die 14 Julie, 2016 toe die geld uit die bankrekening in Lesotho getrek is."
Regter Mark Sher het na die moordtoneel as "interessant" verwys en tydens 'n bespreking met Badenhorst verwys na die egpaar se honde wat in verskillende vertrekke van die woning toegemaak is en na die panga wat netjies in die hoek van die motorhuis neergesit is. "Alle indikasies dui daarop dat wat gebeur het nie net verby was na 'n vinnige wrede aanval nie."
Sher het ook aan die verdediging gevra of dit nie bizarre is om Sishuba te impliseer waar hy geen kontak met die rekeninghouer in Lesotho gehad het nie. Sishuba het ook nie na Lesotho gevlug nie.
Die verdediging het Sishuba se getuienis in twyfel getrek en die hof aangeraai om sy getuienis met versigtigheid te aanvaar. Advokaat Dawie Scholtz het ook verwys na die selfoongetuienis en foto's wat op Lekoro se skootrekenaar gevind is, en het gesê dat die getuienis laat in die verhoor ingedien is. "My kliënt het toe reeds gepleit en 'n pleitskrif gelewer en die verdediging het min tyd gehad om die kliënt te adviseer."
Die saak is uitgestel na Vrydag, 23 Augustus vir uitspraak.
Lees vorige artikels:
- Moordverdagte sukkel om vrae te beantwoord
- Moordverdagte trap klei in hof
- Moordverdagte begin getuienis
- Deurslaggewende getuienis in Humansaak
- Veroordeelde moordenaar gekruisondervra
- Veroordeelde moordenaar getuig vandag teen vriend
- Gru besonderhede oor moord op Humans
- Staat roep die eerste getuies
- Polisiebeampte wat eerste op moordtoneel kom getuig
- Getuie ken verdagte op foto's uit
- Humans het glo oor verdagte gestry
- Eerste getuie in dubbelmoordsaak geroep
- Verhoor van dubbelmoordverdagte begin
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'