MOSSELBAAI NUUS - Regter Mark Sher het die veroordeelde moordenaar, Stephen Lekoro (29), vir die grusame moord op Tewie Human (72) en sy vrou, Eurika (62) op Maandag, 26 Augustus onder meer twee lewenslange vonnisse in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai opgelê. Die Humans is in Junie, 2016 in hul woning op Groot-Brakrivier vermoor. Tewie is verskeie kere met 'n kapmes wat langer as 1m lank is, aangerand en met 'n tuisgemaakte mes gesteek terwyl Eurika op die egpaar se bed verskeie kere met dieselfde mes gesteek is.
Moordtoneel
Die Humans se liggame is eers 'n paar dae na die moorde ontdek, omdat Lekoro die honde in die huis toegemaak het, die gordyne toegetrek het. Hy het ook die Humans se voertuig, wat gewoonlik buite staan, in die motorhuis, bo-oor Tewie se liggaam getrek. Die toneel is opgestel sodat dit moes lyk of die Humans met vakansie was. In skokkende getuienis het die hof gehoor dat Tewie nie dadelik aan sy beserings dood is nie en dat Lekoro, nadat hy Eurika vermoor het, terug na die motorhuis is to "finish the old man off".
Eurika is eers beseer en vermoedelik met die mes gesteek waarna sy geld vir Lekoro moes oorplaas en ook kontant uit 'n boks wat sy in die kas gehou het, vir hom uithaal. Die kontant het die Humans gewoonlik in die boks gehou om hul kleinkinders mee te bederf.
Tydens die twee week lange hofsaak, het die hof bevind dat die moorde fyn beplan was. Tewie het Lekoro vertrou en hulle het 'n goeie verhouding gehad. Lekoro het vir die Humans by hulle rioolonderneming gewerk en ook vir die egpaar in die tuin gewerk.
Op die betrokke dag het hy 'n vriend, Thamsanqa Sishuba na die Humans se woning geneem. Sishuba is aangesê om in die motorhuis te wag en die eerste hou op Tewie toe te dien. Hy dien tans twee lewenslange vonnisse uit vir sy aandeel in die moorde. Sher het Sishuba as "gullible" beskryf. Sishuba het die eerste hou met die kapmes toegedien nadat Lekoro Tewie sover gekry het om af te buk en na iets in die motorhuis te kyk. Sishuba het egter daarna weggehardloop, omdat dit nie vir hom reg gevoel het nie. Hy het in geen van die gesteelde goedere gedeel nie, omdat Lekoro vir hom gesê het hy was nie mans genoeg om die werk klaar te maak nie.
Deurslaggewende getuienis
Lekoro het die Humans se selfone en skootrekenaars gesteel en deurslaggewende getuienis van 'n selfoondeskundige het daarop gedui dat Lekoro, Eurika gedwing het om R14 000 vanuit die egpaar se bankrekening oor te plaas na 'n bankrekening in Lesotho.
Senior staatsadvokaat, Lenro Badenhorst het in Junie vanjaar opdrag gegee dat 'n Acer-skootrekenaar en 'n selfoon wat tydens Lekoro se inhegtenisname in sy besit gevind is, forensies ontleed word. Dit was dié getuienis wat die hof tot sy skuldigbevinding gelei het, het Sher beslis. Op die skootrekenaar was inligting van die Humans en skokkende foto's van kontant, wit steentjies wat soos diamante lyk en mans met klapmusse wat vuurwapens en kontant vashou.
Lekoro
Lekoro het deurgaans tydens die verhoor volgehou dat hy onskuldig is.
Hy het tydens kruisondervraging gedurig sy weergawes verander en homself verder in 'n hoek gepraat. Na sy skuldigbevinding het Lekoro by monde van sy regsverteenwoordiger, advokaat Dawie Scholtz aan die familie van die Humans om verskoning gevra. Sher het die verskoning verwerp en het gesê Lekoro toon nie ware berou nie.
Die hof het gehoor dat Lekoro nie vorige ootredings het wat op die saak van toepassing is nie. Hy het 'n vierjarige dogtertjie wat in Lesotho woon.
Haar ma, Lekoro se wettige vrou, is dood nadat sy deur weerlig getref is.
'n Familielid maak die kind tans groot. Lekoro het slegs graad 5 en het na Suid-Afrika gekom om werk te soek. Hy het in 2015 vir die Humans begin werk tot die dag van die moord. Sher het gesê Lekoro het die hand wat hom voer, gebyt. "Jy is 'n gevaarlike mens en al is dit die enigste ding wat die hof kan doen, want die hof kan nie die Humans terugbring nie, en die hof kan dit nie vir die familie minder traumaties maak nie, kan die hof jou wel vir ewig uit die samelewing verwyder."
Sher het afgewyk van die minimum voorgeskrewe vonnis vir roof met verswarende omstandighede van 15 jaar en het Lekoro vir die roof op Eurika en ook die roof op Tewie, tot 18 jaar tronkstraf vir beide gevonnis.
"Mense in Suid-Afrika word beroof vir items van min na geen waarde. Die hof stuur met hierdie vonnis 'n boodskap uit aan mense wat dit oorweeg om roof met verswarende omstandighede te pleeg."
Die Humans se dogter Amor het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die familie kan uiteindelik kan begin om die trauma te verwerk. "Die hofsaak het ons gewys dat my ma en pa se lewens ook belangrik was."
Stephen Lekoro.
Lees vorige artikels:
- Dubbelmoord: Moordenaar gevonnis
- Double murder accused sentenced
- Human moordenaar 4 keer skuldig
- Double murder accused found guilty
- Slotbetoë in moordsaak gelewer
- Moordverdagte sukkel om vrae te beantwoord
- Moordverdagte trap klei in hof
- Moordverdagte begin getuienis
- Deurslaggewende getuienis in Humansaak
- Veroordeelde moordenaar gekruisondervra
- Veroordeelde moordenaar getuig vandag teen vriend
- Gru besonderhede oor moord op Humans
- Staat roep die eerste getuies
- Polisiebeampte wat eerste op moordtoneel kom getuig
- Getuie ken verdagte op foto's uit
- Humans het glo oor verdagte gestry
- Eerste getuie in dubbelmoordsaak geroep
- Verhoor van dubbelmoordverdagte begin
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'