MOSSELBAAI NUUS - Kieries en looprame hou nie dié twee vriendinne van ’n stembus af weg nie!
Dit was nie vir Elmarie Swanepoel-Oosthuizen (80) en Petro Basson (68) maklik om in die verkiesingsry by die Reebok-gemeenskapsaal te staan nie, maar stem moet ’n mens stem, reken hulle.
Hulle was om en by 06:30 op hulle pos en gereed om hul kruisies te trek.
Swanepoel-Oosthuizen het met haar loopraam met ’n sitplek daar aangekom, aangesien sy weens ’n operasie nie lank op haar voete kan bly nie. Basson het weens ’n knievervanging waarvan sy nog baie pyn het, ’n kierie gehad om haar te help.
Basson sê sy het jare gelede gehardloop, en meen dié sport het haar knieë opgekeil - “altwee my knieë is opgevoeter!”
“En ek bied haar my stoeltjie aan dat ek bietjie kan staan, maar sy weier!” sê-spot Swanepoel-Oosthuizen.
“Nee, want jy kan ook nie lank staan nie!” kap Basson terug.
Die twee sê hulle het al in elke verkiesing gestem waarin hulle kon en beskou stem as ’n verantwoordelikheid. “Dit is vir ons baie belangrik, want ons wil vooruitgang in ons land sien.”
Elmarie Swanepoel-Oosthuizen (80) staan saam met Petro Basson (68) en haar man Pieter (84) in die ry om te stem. Foto: Linzetta Calitz
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’