Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Sodra die R15 000 borg betaal word, kan 'n 42-jarige onderwyser van Laerskool Park huistoe gaan.
Hy is vandag op streng voorwaardes op borgtog vrygelaat, nadat hy sedert 22 September in aanhouding in die George-tronk was.
Die verdagte staar 19 aanklagte van onder meer verkragting, seksuele aanranding en seksuele aanvoring in die gesig. Die aanklagte spruit uit beweerde voorvalle tussen 2019 en 2020.
Die slagoffers was almal in die verdagte se graad 7-registerklas. Die aanklagte van verkragting spruit uit voorvalle wat plaasgevind het toe een van die slagoffers in graad 8 op hoërskool was.
Die landdros het tydens haar borguitspraak gesê die verdagte het geen vorige veroordelings nie en is ook nie in besit van ‘n paspoort nie. Hy het in 2021 laaste met een van die slagoffers kontak gehad, toe hulle ná bewering ooreengekom het om kontak te verbreek.
Tydens uitspraak het die landdros gesê hoewel die staat aangevoer het dat die verdagte ‘n selfdoodrisiko is, die hof nie kon bevind dat die verdagte die veiligheid van die publiek of enige persoon in gevaar sal stel vir die tydperk van sy verhoor nie óf dat die verdagte sal probeer om selfdood te pleeg óf selfdoodneigings het nie.
Die verdagte het tydens sy getuienis in sy borgaansoek aan die hof gesê dat hy nie selfdood sal pleeg nie omdat dit ‘n sonde is.
Die verdagte was met een van die slagoffers in ‘n seksuele verhouding vir minstens 10 maande.
Hoewel die ondersoekbeampte in die saak getuig het dat die verdagte se lewe moontlik in gevaar sal wees indien hy borgtog kry, het die hof dit verwerp omdat die ondersoekbeampte nie die dreigement ondersoek het nie en ook nie ‘n beëdigde verklaring gekry nie.
Die landdros het gesê die staat het ‘n sterk prima facie saak.
Hierdie term word gebruik om aan te dui dat, na ‘n aanvanklike ondersoek, voldoende bewysstukke blyk te bestaan om ‘n saak te ondersteun.
“Al die aanklagte is ernstig. Verkragting is ‘n baie ernstige misdryf.”
Borgtog is egter toegeken omdat die verdagte ‘n vaste adres het en die hof nie kan bevind dat hy sy verhoor sal vermy nie.
Die hof het dit ook in ag geneem dat die verdagte en die slagoffers maande laas hul laaste kommunikasie gehad het.
Die verdagte het tot op hede steeds sy maandelikse salaris ontvang en sal na verwagting in Januarie aan ‘n dissiplinêre verhoor deur die onderwysdepartement onderwerp word.
Hy word onder huisarres geplaas en mag slegs die huis op sekere dae verlaat om inkopies te doen of om Sondagoggende kerk by te woon. Hy mag nie kontak met enige van die getuies of die slagoffers maak nie.
Hy mag nie enige skoolterrein of skool besoek nie en mag ook nie enige sportgeleenthede waar minderjarige kinders betrokke is bywoon nie.
Verder mag die verdagte nie die distrik van Mosselbaai verlaat sonder die ondersoekbeampte se toestemming nie. Hy word onder die toesig van 'n korrektiewe beampte geplaas.
Die verdagte mag nie alkohol of dwelms gebruik nie en mag ook nie enige plek waar alkohol verkoop word, besoek nie.
Die saak is uitgestel tot 31 Januarie 2024.
Vorige artikels:
- Onderwyser voer onder meer gesondheidsredes aan vir borgaansoek
- Slegs media mag onderwyser se borgaansoek bywoon
- Landdros siek, onderwyser se borgaansoek weer uitgestel
- Onderwyser vanoggend in hof
- Onderwyser se borgaansoek uitgestel
- Onderwys departement loods ondersoek na onderwyser se inhegtenisname
- Onderwyser bly in aanhouding tot borgaansoek
- Onnie vas vir beweerde verkragting
- Laerskool onderwyser vandag in hof
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’