Update
TUINROETE NUUS - Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys het bevestig dat ‘n ondersoek van stapel gestuur is ná ‘n 43-jarige onderwyser van Laerskool Park in hegtenis geneem is op aanklagte van verkragting, seksuele gereedmaking en seksuele aanranding.
Woordvoerder, Bronagh Hammond, sê die beweringe teen die onderwyser is kommerwekkend en word in ‘n baie ernstige lig beskou.
“Ons sal ‘n ondersoek loods en sal ons volle samewerking aan die owerhede gee.”
Intussen het skoolhoof, Daan du Toit, op ‘n navraag deur die Mossel Bay Advertiser gereageer en gesê:
“Die skool is ingelig van beweringe en die ondersoek teen een van ons onderwysers. Ons het geen vooraf kennis gehad van die aangeleentheid of die voorval nie en is onlangs eers deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ingelig van die onafhanklike ondersoek.
"Ons beskik nie op hierdie stadium oor meer besonderhede nie. Die omvang van die beweerde klagtes en/of ondersoek is tans nie aan ons bekend nie aangesien die proses sub judice deur die polisie ondersoek word.“
Du Toit sê: “Die skoolbestuur en beheerliggaam het geen klagtes in hierdie verband in enige stadium ontvang het nie.”
Die verdagte het vanoggend vlugtig in die Mosselbaai-landdroshof verskyn en bly in aanhouding.
Hy sal weer op 4 Oktober in die hof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’