MOSSELBAAI NUUS - 'n Laerskool onderwyser van Mosselbaai verskyn vanoggend in die Mosselbaai-landdroshof nadat hy Woensdag by die skool deur die polisie op aanklagte van verkragting, seksuele gereedmaking en seksuele aanranding in hegtenis geneem is.
Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het daarna die verdagte (43) na sy woning vergesel waar hulle onder meer op elektroniese toerusting beslag gelê het.
Hy het Woensdag- en Donderdagaand in die aanhoudingselle geslaap. Polisiewoordvoerder, sers Chris Spies, sê die beweerde dade het tussen 2019 en 2020 by verskeie persele op Mosselbaai gebeur.
"Die ondersoek duur voort en meer aanklagte mag dalk later by die klagstaat gevoeg word soos die ondersoek ontvou."
Die man kan nie bekend gemaak word totdat hy gepleit het nie en kan ook nie bekend gemaak word indien die bekendmaking daarvan, slagoffers direk of indirek sal identifiseer nie.
Enigeen met meer inligting kan kapt Franco Bestbier kontak by 083 547 7086 of die ondersoekbeampte in die saak ao Soretha van Zyl by 071 673 5981.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’