Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Staat se aansoek vanoggend in die Mosselbaai-landdroshof dat slegs lede van die media die borgaansoek van ’n 43-jarige graad 7-onderwyser van Laerskool Park mag bywoon, is deur die hof goed gekeur.
Die borgaansoek word in camera gehou en lede van die publiek mag dit dus nie bywoon nie.
Dit is vandag die verdagte se derde verskyning in die Mosselbaai-landdroshof.
Hy staan tereg op 19 aanklagte wat insluit seksuele aanranding, verkragting en die blootstelling van kinders aan pornografie.
Die man is op 20 September in hegtenis geneem en het twee dae later sy eerste hofverskyning gemaak. Hy is sedertdien in aanhouding by die George-gevangenis.
Die verdediging het vanoggend aangevoer dat dit in die publiek se belang is om besonderhede van die borgaansoek te weet, maar dat dit nie in belang van die slagoffers of die verdagte se minderjarige kinders is dat lede van die publiek in die borgaansoek mag sit nie omdat intieme besonderhede van die saak asook slagoffers se identiteite gedurende die borgaansoek bekend gemaak sal word.
Die verdediging het 'n versoek gerig dat die media wel die borgaansoek mag bywoon op voorwaarde dat die verdagte se identiteit en die van die slagoffers nie bekend gemaak word nie.
Die aansoek is goedgekeur en die borgaansoek is tans aan die gang.
Vorige artikels:
- Landdros siek, onderwyser se borgaansoek weer uitgestel
- Onderwyser vanoggend in hof
- Onderwyser se borgaansoek uitgestel
- Onderwys departement loods ondersoek na onderwyser se inhegtenisname
- Onderwyser bly in aanhouding tot borgaansoek
- Onnie vas vir beweerde verkragting
- Laerskool onderwyser vandag in hof
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’