Update
JONKERSBERG NUUS - ‘n Inwoner van Jonkersberg, Russel Ayford is gister, op Donderdag, 20 Mei in die Mosselbaai-streekhof tot vyftien jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op die dorp se bibliotekaresse, Clodine Nuys (22).
Clodine is op Dinsdag, 11 Februarie, 2020 vermoor.
Haar liggaam is agter die Jonkersberg Kleuterskool gekry, nadat haar familie na haar begin soek het. Sy het op haar maag gelê en haar voete was met kleefband vasgebind. ‘n Nadoodse ondersoek het bevestig dat sy verwurg is.
Ayford is kort na die moord aangekeer nadat hy tussen bosse op Jonkersberg weggekruip het.
Jonkersberg is ‘n klein bosbou-gemeenskap en Ayford en Clodine het mekaar geken. Nuys is laas lewend gesien deur haar kêrel, Luciano Maniwil (21), toe sy op die betrokke oggend hulle huis op Jonkersberg verlaat het om by die biblioteek te gaan werk. Nuys het saam met Maniwil en sy ouers gewoon en het alleen die biblioteek beman.
Ayford is ‘n verdere drie jaar gevangenisstraf opgelê vir ontvoering en die twee vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Dit beteken dat Ayford na vyftien jaar vir parool in aanmerking sal kan kom.
Die saak is suksesvol ondersoek deur sers Ferdi Nel van die Groot-Brakrivier-polisiestasie.
Die ondersoekbeampte in die saak, sers Ferdi Nel.
Russell Ayford kort nadat hy aangekeer is vir die moord op Clodine Nuys.
Vorige artikels:
- Jonkersberg moord: Verdagte pleit skuldig
- Vermoorde bibliotekaresse sou môre verjaar
- Bibliotekaresse begrawe
- Pa bid vóór moord
- Gemeenskap sê nee vir borg
- Moord ruk dorpie, verdagte vas
- Moordverdagte probeer weghardloop
- Gemeenskap geruk deur Clodine se wrede dood
- Vrae oor motief na bibliotekaresse wreed vermoor is
- Liggaam van bibliotekaresse gevind
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'