JONKERSBERG NUUS - Clodine Nuys se liggaam is op Dinsdag, 11 Februarie agter Jonksersberg-kleuterskool gevind. Haar voete was met kleefband vasgebind. Daar was ook kleefband oor haar mond geplak.
'n Verdagte is op 13 Februarie in verband met haar dood in hegtenis geneem. Hy verskyn weer op Dinsdag, 25 Februarie in die hof om vir borgtog aansoek te doen.
Nuys se pa, Booi Jansen, het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat hy Clodine twee weke gelede laas gesien het.
Clodine, wat by haar kêrel en sy ouers op Jonkersberg gewoon het, het oudergewoonte op Sondagmiddag, 2 Februarie vir haar ouers gaan kuier. "Sy het ons omhels, gesoengroet en gesê dat sy ons oor twee weke weer sal sien," het Jansen vertel. Dit het nie so gebeur nie, want Clodine is die volgende Dinsdag vermoor.
Jansen vertel hoe hy die oggend van die gebeurtenis in die vroeë oggendure opgestaan het met 'n gevoel van bekommernis wat hy nie kon verklaar nie. Hy het besluit om daar en dan op sy knieë te gaan en om vir sy familie te bid, minwetend wat op dié dag vir hulle sou voorlê.
Oorspronklik van Oudtshoorn, het die familie sowat ses jaar gelede Jonkersberg toe verhuis, waar Clodine haar hoërskooljare by Groot Brak Sekondêre Skool voltooi het. Clodine was die oudste van vier kinders en was 'n stil, saggeaarde mens.
Clodine se gunstelingvak op skool was verbruikersstudies en sy was lief vir haar werk by die dorp se biblioteek.
"Ons is nog in skok oor die gebeurtenis. Sy was jonk en gesond. Om haar so te verloor is 'n baie groot skok. Toe ons hoor wat gebeur het, het ons hele gesin in trane uitgebars. My een dogter het vyf ure lank gehuil," vertel Jansen.
VERWANTE ARTIKELS:
- Gemeenskap sê nee vir borg
- Moord ruk dorpie, verdagte vas
- Moordverdagte probeer weghardloop
- Gemeenskap geruk deur Clodine se wrede dood
- Vrae oor motief na bibliotekaresse wreed vermoor is
- Liggaam van bibliotekaresse gevind
'Ons bring jou die nuutste Jonkersberg, Tuinroete nuus'