JONKERSBERG NUUS - Die gemeenskap van Jonkersberg het nie net saamgestaan toe die vermoorde Clodine Nuys (22) se kêrel verlede week hulle hulp gevra het nadat sy vermis is nie, maar hulle het ook help soek na die man wat van haar moord verdink word.
Boonop het hulle die afgelope week weer eens saamgestaan om 'n petisie te teken waarin hulle eis dat dié man wat van Nuys se moord verdink word, in aanhouding bly.
Die verdagte, Russel Ayford (24) het op Dinsdag, 18 Februarie sy eerste verskyning in die landdroshof op Groot-Brakrivier gemaak.
Teen Dinsdagaand het reeds meer as 200 inwoners dié petisie geteken wat eis dat Ayford in aanhouding moet bly vir die totale tydperk van sy verhoor. Ayford is deur polisiebeamptes na die hofgebou gelei en het 'n donker sweetpakbroek en 'n grys T-hemp gedra. Inwoners van Jonkersberg het die hofbanke vol gesit en na 'n vlugtige verskyning is die saak uitgestel na Dinsdag, 25 Februarie wanneer Ayford formeel om borgtog sal aansoek doen. Hy bly intussen in aanhouding as 'n verhoorafwagtende by die departement van korrektiewe dienste se sentrum op Mosselbaai.
Clodine is laas op Dinsdag, 11 Februarie lewend gesien toe sy haar kêrel, Luciano Maniwil by die huis wat hulle gedeel het vroegoggend gegroet het. Hulle was die afgelope sewe jaar 'n paartjie. Sy het meestal die een kilometer na die dorp se biblioteek te voet afgelê.
Bekommerd
Maniwil het teen 16:30 dieselfde middag bekommerd geraak toe hy van die werk af by die huis kom en Clodine nog nie daar was nie. Hy het aan die Mossel Bay Advertiser gesê Clodine het altyd na werk huis toe gegaan en wanneer sy wel elders was, sy altyd iemand laat weet het.
'n Bekommerde Maniwil het lede van die Jonkersberg-gemeenskap gevra om hom te help om na Clodine te soek. 'n Soektog is deur die gemeenskap van stapel gestuur en 'n tienerseun het skaars twee uur later op haar liggaam afgekom. Clodine se voete was met kleefband vasgebind, daar was kleefband oor haar mond geplak en 'n kabelband was om haar nek gebind.
Die vermoede bestaan dat Clodine verwurg is, maar die uitslae van 'n nadoodse ondersoek is nog nie bekend gemaak nie. Sy is nie verkrag nie en slegs haar selfoon en die biblioteek se sleutels is gesteel.
Gedenkdiens
'n Paar uur na Ayford se hofverskyning het die gemeenskap van Jonkersberg 'n gedenkdiens vir Clodine by die kerksaal op die dorp gehou.
Kerse is ter herinnering aan Clodine aangesteek en haar familie, wat haar ouers, Katrina en Booi Jansen insluit, was emosioneel tydens die verrigtinge.
Intussen is daar 'n uitstorting van ondersteuning vir Clodine se familie en die gemeenskap van Jonkersberg is steeds daartoe verbind om misdaad teen vroue en kinders uit hul dorp te hou.
Russel Ayford
Gemeenskapsleier, Maureen Gertse sê hulle het vermoed dat Ayford moontlik by die misdaad betrokke kon wees. 'n Bron binne die gemeenskap het aan die Mossel Bay Advertiser gesê die hulle kort ná die moord op die toneel bymekaargekom het, en dat Ayford se naam telkens genoem is as 'n moontlike verdagte.
Ayford het op die vlug geslaan toe polisiebeamptes van die Groot-Brakrivier-polisiestasie na sy huis is wat hy met sy meisie deel. Hy het na wat verneem word 'n nota gelos waarin hy dreig om homself om die lewe te bring.
Ayford het in bosse buite Jonkersberg geskuil, maar is kort daarna tydens 'n spanpoging deur die polisie, die gemeenskap en bosbouers, in hegtenis geneem.
Volgens Gertste woon Ayford reeds etlike jare op Jonkersberg en het hy op Groot Brak skoolgegaan. Hy het tot onlangs op 'n teeplaas in die omgewing gewerk, maar was, na wat verneem word, tydens sy inhegtenisname werkloos.
Clodine was glo bevriend met Ayford se meisie en het hom dus geken. Familielede van Ayford woon steeds op Jonkersberg en hy het ook familie op Groot-Brakrivier. Die polisie se ondersoekspan is besig om die stukke van die legkaart bymekaart te sit en die motief agter die moord is nog onbekend.
Moeg vir geweld
"Ons rustigheid is versteur. Ons vra dat hy nie borgtog kry nie. Ons as 'n gemeenskap is moeg vir geweld teen vroue en kinders en ons gaan bly saamstaan en mekaar ondersteun."
Polisiewoordvoerder, sers Laurianne Botha het die gedenkdiens vir Clodine gelei. "Die gemeenskap het dadelik gehelp om na Clodine te soek en haar nabye familie het dadelik besef daar is fout toe sy nie by die huis opdaag nie. Dit is 'n aanduiding van hoe noodsaaklik dit vir ons gemeenskappe is om mekaar te ken, en te onderskraag," sê Botha.
Clodine se roudiens vind op Saterdag, 22 Februarie om 10:00 by die Verenigde Gereformeerde Kerk op Groot-Brakrivier plaas.
Russel Ayford word deur lede van die gemeenskap na die polisie se vangwa geneem kort nadat hy in bosse buite Jonkersberg vasgetrek is.
Familielede van Clodine Nuys tydens die gedenkdiens.
Luciano Maniwil het 'n kruis en blomme in die grond gesit op die toneel waar sy meisie, Clodine Nuys dood gevind is.
Kerse is deur die gemeenskap ter nagedagtes vir Clodine Nuys aangesteek.
VERWANTE ARTIKELS:
- Pa bid voor moord
- Jonkersberg moordverdagte in hof
- Moord ruk dorpie, verdagte vas
- Moordverdagte probeer weghardloop
- Gemeenskap geruk deur Clodine se wrede dood
- Vrae oor motief na bibliotekaresse wreed vermoor is
- Liggaam van bibliotekaresse gevind
'Ons bring jou die nuutste Jonkersberg, Tuinroete nuus'