Update
MOSSELBAAI NUUS - Die familie van Kirsty James (27) is ontevrede met die vonnis wat Fallon Edwards (32) Dinsdag na 'n pleitooreenkoms met die staat in die Mosselbaai-streekhof opgelê is.
Edwards het skuld erken op 'n aanklag van moord.
James is op 17 Oktober by haar werkplek in Springstraat 64 keer met 'n mes toegetakel. Sy het op pad na 'n Mosselbaai hospitaal aan haar wonde beswyk.
Edwards, wat as James se boesemvriendin beskryf is, is kort na die moord in hegtenis geneem.
James het voltyds by NDK Valuers gewerk, maar Edwards was nie voltyds aangestel nie.
Hoewel die bewering was dat Edwards glo bedrog met die maatskappy se krediet-kaart gepleeg het en die vermoede bestaan het dat Kirsty haar werkgewers daaroor ingelig het, beweer Edwards in haar pleitooreenkoms dat dit Kirsty was wat bedrog gepleeg het.
Sy sê in haar pleitooreenkoms dat Kirsty haar eerste met 'n mes aangeval het, sy die mes by Kirsty afgeneem en haar toe met die wapen begin steek het.
Die staat het Edwards se pleitooreenkoms aanvaar en het gesê die feit dat sy skuld erken dien as versagtende omstandighede.Sy is ook 'n eerste oortreder en het twee jong kinders.
Edwards is tot effektief 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Kirsty se ma, Marion Bruinders het aan die Mossel Bay Advertiser ná afloop van die vonnisoplegging gesê die gereg het haar en haar familie gefaal. "Dit het baie seergemaak om te hoor dat my oorlede dogter as 'n leuenaar uitgekryt is."
Bruinders het gesê sy vind dit ironies dat die hof as strafversagting melding gemaak het van Edwards se twee kinders, maar nie in ag geneem het dat James se dogter sonder 'n ma moet grootword nie.
Fallon Edwards is in die Mosselbaai-streekhof gevonnis.
Fallon Edwards
Kirsty James
Vorige artikels:
- Vrou wat vriendin meer as 64 keer met mes steek gevonnis
- Fallon Edwards weer in hof
- Fallon laat vaar borgaansoek
- Kirsty 64 keer met mes gesteek
- Mesmoord: Borgaansoek uitgestel
- Vermoorde vrou het voorgevoel gehad
- Verdagte in moordsaak maak eerste verskyning
- Vrou wat met mes doodgesteek is geïdentifiseer
- Vrou sterf na mesaanval by kantoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’