Update
MOSSELBAAI NUUS - Kirsty James (27) die vrou en ma van 'n dogtertjie wat op 17 Oktober deur haar vriendin, Fallon Edwards (32) by haar kantoor by NDK Valuers in Springstraat, Mosselbaai vermoor is, is altesaam 64 keer met 'n mes gesteek.
Die besonderhede is vandag in die Mosselbaai-streekhof tydens Edwards se borgaansoek bekend gemaak.
Naas 'n aanklag van moord is nog 'n aanklag van bedrog vandag op die klagstaat gevoeg.
Die Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat Edwards, wat soms by NDK Valuers werk gedoen het, maar nie voltyds aangestel was nie, daarvan verdink word dat sy met die maatskappy se bankkaart bedrog gepleeg het. Die vermoede bestaan dat Kirsty vir Edwards oor die voorval gekonfronteer het en dat dit vermoedelik die motief agter die moord was.
Dit het ook bekend geraak dat Kirsty vermoedelik op die dag van die moord bang vir Edwards was omdat sy verskeie boodskappe aan getuies gestuur het waarin sy sou sê dat Edwards in die straat by die kantoor staan en by die perseel opgedaag het. Sy het onder meer ook gesê Edwards tree vir haar vreemd op.
Die borgaansoek duur voort en Edwards bly in aanhouding. Edwards is 'n eerste oortreder en het nie enige vorige veroordelings nie. Die saak is uitgestel tot Maandag, 5 Desember.
Vorige berigte:
- Mesmoord: Borgaansoek uitgestel
- Vermoorde vrou het voorgevoel gehad
- Verdagte in moordsaak maak eerste verskyning
- Vrou wat met mes doodgesteek is geïdentifiseer
- Vrou sterf na mesaanval by kantoor
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'