MOSSELBAAI NUUS - ‘n Sewe-en-twintig jarige vrou is vanmiddag op Maandag, 17 Oktober by haar kantoor in Mosselbaai met ‘n mes aangeval en vermoor.
Die polisie se kommunikasiebeampte, ao Pieter Koekemoer sê die slagoffer het by NDK Valuers gewerk en is tussen 15:30 en 15:50 deur ‘n 32-jarige vrou met ‘n mes aangeval.
“Die slagoffer het verskeie steekwonde aan haar liggaam opgedoen en die lem van die mes het tydens die aanval afgebreek.”
Koekemoer sê speurders verbonde aan die Mosselbaai-polisiestasie was vinnig op die toneel en die slagoffer het nog met hulle gepraat.
“’n Ambulans het haar na ‘n hospitaal geneem maar sy het aan haar beserings beswyk.”
Die verdagte het tydens die voorval haar hand gesny en is tans onder polisiebewaking in ‘n hospitaal in Mosselbaai. Koekemoer sê die motief vir die aanval is nog nie bekend nie.
Die polisie ondersoek ‘n saak van moord.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'