Update
MOSSELBAAI NUUS - Indrukwekkende weerlig het Dinsdagaand waarskynlik tot 'n veldbrand op grond, wat skynbaar aan CapeNature behoort, in die Ruiterbos-omgewing gelei.
Brandbestryders van beide die Mosselbaai-munisipaliteit en die Eden-distriksmunisipaliteit was sedert Dinsdagaand sedert net na 19:00 op die toneel.
Volgens ooggetuies is die brand omstreeks 19:00 deur baie aanskoulike, maar vernietigende blitse veroorsaak.
Na wat berig word het 'n brandbestryder wat in die omgewing woon, Francois Roberts, en sy dogter Dinsdagaand, 31 Oktober buite hul huis gesit en gesien hoe swaar die donderweer en weerlig in die omgewing is.
'n Besonder aanskoulike stel weerlig om 19:00 het na bewering toe tot die brand aanleiding gegee.
Woensdagoggend is die hulp van 'n helikopter ingeroep om die brand te blus en is berig dat digte rook oor die Robinsonpas sig belemmer.
Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste se spanne was Woensdagmiddag nog op die toneel by die brand in die Robinsonpas.
MTO, eienaars van die aangeplante plantasie, het 'n voorbrand gemaak wat tot die groot rookkolom aanleiding gegee het wat vir kilometers om die brand duidelik sigbaar was.
Provinsiale verkeersbeamptes het die pas deurgaans gemonitor en die brand het nie verkeer ontwrig nie, hoewel berigte ontvang is dat sig by tye beperk was.
'n Brand het Dinsdagaand in die Ruiterbos-omgewing van die Robinsonpas ontstaan nadat swaar indrukwekkende blitse in die omgewing opgemerk is. Foto: Dave van der Merwe
Brandbestryders het die area by die huise deurgaans gemonitor, waar die gebied teen Woensdag steeds as veilig beskou is.
Op die westelike flank het die brand in die rigting van die uitkyktoring versprei, terwyl dit op die suidoostelike flank stadig in die rigting van 'n area wat nog nie deur vorige, onlangse brande geraak is nie, versprei het.
Die gebied word deurgaans noukeurig gemonitor.
Teen Woensdag was Jan Makampies van CapeNature en Jeff Taylor van MTO steeds op die toneel en het hul organisasies, bygestaan deur Mosselbaai se brandbestryders, aktiewe brandbestryding deur onder meer voorbrande toegepas.
Laat Woensdagmiddag was die brand onder beheer en het lede van Mosselbaai se nooddienste onttrek terwyl CapeNature en MTO die situasie deurgaans gemontor het.
Elders in die Suid-Kaap, was die weerlig tegelykertyd ook vir brande in die Garcia-pas en die Karatara-omgewing verantwoordelik.
Lees vorige artikels:
- Brand by Ruiterbos onder beheer
- Update: Robinson Pass fire
- Robinsonpas steeds oop vir verkeer
- Weerlig rede vir brand
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'