Gallery Sponsored Content
MOSSELBAAI NUUS - Ou geboue is indrukwekkend en boonop interessant. Nie net omdat hulle die stille getuies van geskiedenis is nie, maar omdat ‘n mens se nuuskierigheid jou wil verstout om te wonder wat die mure sou sê, indien hulle kon praat.
Kerkstraat 10, reeds etlike jare Rauch Gertenbach se permanente adres, staan ook beter as die ou Advertiser-gebou bekend. Dit is aangesien dit voorheen nie net ‘n drukkery nie, maar ook die tuiste van die plaaslike gemeenskapskoerant was.
Soos berig in hierdie reeks artikels wat die geskiedenis van Rauch Gertenbach Prokureurs toelig, het die gebou sedert die oprigting daarvan ‘n verskeidenheid handelaars gehuisves. Hierdie stuk geskiedenis, kan ‘n mens jou indink, moes uiteraard van die kleurvolste staaltjies opgelewer het.
Eweneens, is die wel en weë van ‘n gemeenskapskoerant vir seker die oorsprong van stories wat jou tone kan laat krul of jou hare kan laat rys.
Vroue vertel
Die Mossel Bay Advertiser se redakteur, Suzette Herrer, asook voormalige werknemers, Shirley Coetzee, Denise Lloyd en Lynette Kapp, was nog van diegene wat desjare by die Advertiser se kantore in Kerkstraat 10 gewerk het voor die koerant na die oorkantste gebou, Kerkstraat 9 as hulle huidige adres geskuif het.
Dié vroue, het hulle herinneringe aan Kerkstraat 10 gedeel.
Lynette Kapp, wat in 2021 na 33 jaar in diens van die Advertiser afgetree het, bied ‘n interessante konneksie tussen die koerant en hulle “bure” oorkant Kerkstraat, Rauch Gertenbach.
In 1980 werk Kapp vir ‘n paar maande as invorderingsklerk vir die eerstydse Pauw Rauch Gertenbach en Moolman toe hulle kantore nog in Cuffstraat geleë was.
“Dit was maar ‘n klein geboutjie, amper soos ‘n doolhof. Ek was vars uit die Kaap en pasgetroud.”
Sy het haar werksonderhoud by mnr Rauch gehad en beskryf hom as ‘n lang, donker man.
“Tydens die onderhoud het ek nog versoek om darem dieselfde as in die Kaap te kon verdien. Toe mnr Rauch hoor hoeveel ek wil verdien, was sy antwoord redelik geskok, ‘Dit is nie die Kaap hierdie nie’,” vertel Kapp laggend. Sy is hierna as tikster by die eertydse Boland Bank aangestel, voor sy by die Advertiser begin werk het.
“Ek het nog na ek by die prokureurs weg is, altyd vir hulle koek geneem.” Kapp het in 1988 by die Advertiser begin werk en toe ook net ‘n jaar in Kerkstraat 10 gewerk, voor daar oorgeskuif is na die koerant se huidige adres.
Kriewelrigheid
Denise Lloyd, tans bemarkingsbeampte by die Hartenbos Seefront, was in die jare tagtig as redakteur van die Advertiser werksaam. Sy lag lekker as sy verwys na al die interessante staaltjies wat die “ou Advertiser-gebou” opgelewer het.
“My kantoor was destyds by die huidige ingang regs. Ek het saans tot baie laat gewerk. Ons het pas nuwe rekenaars gekry, maar hulle was so groot soos die eletroniese masjiene in ‘n speletjiesarkade. Beslis nie iets wat jy sou kon huis toe neem nie om te werk nie.”
Fotogalery: Die geskiedenis van die gebou by 10 Kerkstraat
Lloyd vertel dat sy dikwels op ‘n Woensdag as gevolg van saktyd tot die vroeë oggendure op kantoor gesit en werk het.
“Ek kon nie by die voordeur uit nie, want dit kon slegs van binne sluit. Dan moes ek my weg deur die donkerkamer, waar foto’s ontwikkel is, asook die drukkerygedeelte vind om uit die gebou te kom. Dit was donker en ‘n mens het so ‘n kriewelrige gevoel gekry.”
Lloyd vertel dat sy met die laatnagwerkery, die plaaslike polisie sou kontak om haar uit die gebou te vergesel.
“Hulle het dan met hulle voertuig se ligte op die voordeur ingeskyn dat ek net ‘n bietjie lig kon hê en het my dan tot by my motor begelei dat ek kon huis toe gaan.”
Lloyd brei uit dat daar beweringe rakende ‘n paar inwonende spoke by Kerkstraat 10 was, maar sy het glo nooit die twyfelagtige voorreg gehad om hulle in enige gedaante te ontmoet nie.
“Daar was wel soms, as ek so laatnagt werk, ‘n paar kraakgeluide hoorbaar op die verdieping bokant my kantoor. Dit het ‘n mens soms wanneer jy werklik verdiep sit en werk, nogal teruggeruk na die werklikheid. Dis nogal lagwekkend as ek nou daaraan terugdink.”
Rand van die dorp
Die vraag mag dalk ontstaan, onder hedendaagse lesers, waarom die omgewing destyds ‘n gevoel van kriewelrigheid in die laatnag tot gevolg sou kon hê.
Shirley Coetzee, wat in Januarie 2018 na 30 jaar by die Advertiser afgetree het, bied ‘n logiese verduideliking.
“Die ou Advertiser-gebou was op die rand van die dorp. Daar was eintlik niks verder aan nie. Waar die parkering vir die Dias-museum was, was ‘n koöperasie en by die Gannet-restaurant, was voorheen net ‘n ou huis. Daar was nie sprake van ‘n winkelsentrum in die omgewing nie. CP Nel motors was wel daar naby.”
Coetzee sê ook dat vandaar, ‘n smal, kronkelpaadjie na Santosstrand gelei het. Afgelei van hierdie beskrywing van die destydse omgewing, is dit omtrent ‘n resep vir ‘n spookagtige toneel of twee.
Baie pret, die stof ten spyt
Ongeag die feit dat die gebou destyds maar oud en afgeleef tydens die Advertiser se gebruik daarvan was, sê die vroue uit een mond dat hulle baie pret saam gehad het. Al vier het op die keper beskou, jare lank as kollegas saam gewerk.
“Die vloer was van swart sement en vol slaggate. Van ‘n kombuis was daar geen sprake nie,” berig Coetzee.
“Daar het altyd stof vanaf die boonste vloer op ‘n mens deurgesif, veral as mense daar loop,” vertel Herrer. Lloyd en Coetzee beaam dit. Volgens Lloyd was stoffeerders wat eens op ‘n tyd daar gehuur het moontlik die oorsaak van die oormaat stof. Coetze vertel weer dat ‘n gimklas wat saans op die boonste vloer aangebied is, letterlik die stof laat staan het.
Nietemin het die vroue veral Vrydae glo die meeste van Rauch Gertenbach se ruim stoep gemaak.
“Vrydagmiddae het ons op die stoep gebraai. Dit is ook wanneer die koerantsverkopers hulle geld teruggebring het om getel te word,” sê Herrer.
“Daar was ‘n kraak in die sypaardjie. Ons het altyd ‘n sambreel daar ingedruk om ‘n bietjie skaduwee te verskaf,” brei Coetzee uit.
Êrens in die Advertiser se argiewe, of so word vertel, is daar nog ‘n paar foto’s van hierdie geselligheid op die stoep. En die vroue, waarvan sommige nou al afgetree het en oumas is, is jong doedies geklee in tipiese modes uit die 1980s.
Só kan ‘n mens ook maar net aanhou wonder, watter ander stories Kerkstraat 10 sou vertel, as dié mure net kon praat.
‘n Prettige foto van die Mossel Bay Advertiser se personeel wat vir die Caxton Excellene Awards geneem is ‘n paar jare gelede. Op die foto (heel links) staan Lynett Kapp, (vierder van links) Suzette Herrer en (derde van regs), Shirley Coetzee wat bydraes tot die artikel oor Rauch Gertenbach gelewer het.
Verwante artikels:
- Rauch Gertenbach Prokureurs 'n vaste naam en adres
- Rauch Gertenbach Prokureurs die laaste van die grondleggers
- Gaan op reis na gister met Rauch Gertenbach Prokureurs
- Rauch Gertenbach 'n geskiedkundige adres
- 'n Feesjaar vir Rauch Gertenbach
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'