Gallery Sponsored Content
SAKENUUS - Met Rauch Gertenbach Prokureurs se eeuwording in Maart 2022 voor hande, baan ‘n reeks artikels die kronkelpad deur die geskiedenis van die bekroonde firma wat ‘n vertroude naam in die Tuinroete, Klein- en Groot Karoo is. Na aanleiding van die vorige twee artikels, wat grotendeels oor die Scholtze gehandel het as die grondleggers van dié firma, het die vraag oor waar die “Rauch Gertenbach” dan vandaan kom, ontstaan.
Mavis Victor, wat vir meer as ‘n halfeeu by die firma werksaam was, het hierdie geskiedenis, asook van haar herinneringe oor die beginjare, neergepen.
Cuffstraat
In die jare vyftig was daar drie prokureurskantore op Mosselbaai – al drie geleë in Cuffstraat.
Mike Harris open in 1951 ‘n kantoor op Mosselbaai genaamd Hurter & Harris. Nadat die eerste sekretaresse bedank, word Mavis Hancox (later Victor) in Februarie 1952 by die firma aangestel.
Die ander twee firmas was Miller & Moodie en Scholtz & Van Renen (voorheen Scholtz & Scholtz).
Mavis Victor vertel in haar terugblik op hierdie beginjare, hoe korrespondensie, hofstukke, aktes en dies meer in snelskrif gedikteer en op tikmasjiene getik is.
FOTOGALERY: Rauch Gertenbach - Kronkelpad deur die geskiedenis
“Ek onthou nog hoe ek tussen een en twee uur smiddae my boekie huis toe geneem het om alles te ontsyfer. Daar was nie kopieer- of optelmasjiene nie. Boekhouding is per hand gedoen en daar was geen bodes nie.”
In vandag se terme mag dit belaglik klink, maar volgens Mavis was haar aanvangsalaris R30.00, met ‘n jaarlikse verhoging van R5 per maand.
“Daar was nie ‘n ding soos ‘n dertiende tjek nie, maar darem ‘n geskenkie aan die einde van die jaar. Later het dit egter verander.”
Die ander twee regsfirmas was feitlik regoorkant Hurter & Harris. Harris het sy firma na Marshstraat verskuif. Die perseel was later die eiendomsagentskap Harris & Scheltema, waarvan Mike Harris se seuns, Kobus en wyle Louis, die eienaars was.
Twee vroue
Danksy gesonde groei, word vanaf September 1954 onder die naam MJ Harris & Kie sake gedoen. Dit noop die aanstelling van Hansie Oosthuizen, aanvanklik in ‘n halfdag pos, maar twee maande later, moes sy voldag inspring.
“Benewens al ons gewone werk, was prokureurs destyds ook agente vir verskillende versekeringsmaatskappye en bouverenigings soos Sanlam, Saambou en United. Die eerste week van elke maand was baie besig met premie-ontvangstes, lyste afmerk en bankdeposito’s.”
In 1958 word ‘n professionele assistant, Bill Tolken aangestel. Tolken keer in 1960 terug Kaapstad toe om in die huwelik te tree en begin later sy eie suksesvolle praktyk.
Nadat Tolken weg is word die twee kantoordames, Victor en Oosthuizen gevra om die invorderingsafdeling oor te neem.
“Dit was benewens ons eie werk. Ons kry toe elk R100.00 verhoging wat ons natuurlik as ‘n groot bonus beskou het,” vertel Victor.
Verandering
Mike Harris se gesondheid het begin agteruitgaan, tot so ‘n mate dat hy dikwels nie op kantoor was nie.
Hy is op 18 November 1971 oorlede.
“Mike het ‘n groot leemte gelaat. Hy was baie bekwaam en behulpsaam. Sy menslikheid het voorop gestaan. Dit was nie ongewoon dat hy sy fooie sou verminder het as iemand nie vir sy dienste kon betaal nie en as ons kinders siek was, sou hy ons huis toe stuur.”
Die kantoor kon egter nie langer as ses weke sonder ‘n gekwalifiseerde prokureur funksioneer nie. Verskeie prokureurs het egter vir ‘n tyd lank waargeneem.
In 1972 neem Jan Rauch van Bloemfontein die firma oor. Besigheid blom en die kantoorpersoneel neem toe. Chappie Gertenbach sluit in Februarie 1973 by die firma aan. Nou is die kantoorspasie te klein en die firma vind ‘n nuwe tuiste hoër op in Marshstraat langs die destydse Park Kafee.
“Ons het toe darem al elektriese tikmasjiene en ander kantoortoerusting gehad,” bemerk Victor.
Volgende om by die firma, nou bekend as Rauch Gertenbach, as ingeskrewe klerk aan te sluit is Kit Zietsman. Intussen, het die firma wat aanvanklik Scholtz & Scholtz was, ook ‘n paar omwentelings ondergaan en in 1973, word dit bedryf as Scholtz Pauw & Moolman, nadat Moolman hom op 3 Januarie by die firma aansluit.
Johan Scholtz, die laaste van die oorspronklike grondleggers, besluit om na Pretoria te verhuis, en Rauch Gertenbach word oor samesmelting met Pauw & Moolman genader.
Samesmelting
Net voor die draai van die dekade in 1979 vind die samesmelting plaas. Beide firmas behou hul personeel, maar staan nou bekend as Pauw Rauch Gertenbach & Moolman. Beide praktyke het hul eie bedryfstyl gehad, maar daar is skouer aan die wiel gesit om aanpassings te maak.
“Dit was maar ‘n moelike begin, twee boekhoustelsels, twee boekhoudsters,” verduidelik Victor.
Van hierdie “moeilike tye” blyk, volgens Victor se vertelling, die oorskakeling na ‘n rekenaarstelsel te gewees het.
“Weer was dit boeke afsluit en balanse oorbring. ‘n Firma van Kaapstad het omtrent twee weke geneem om die hele boekhoustelsel en alle leêrs op die stelsel te kry. Ek het geen benul van rekenaarwerk gehad nie en moes op my tande kners om tred te hou. Daar was nie juis opleiding nie, net ‘n ‘jy maak so en so en dit en dat’ en as jy vasgebrand het, dan skakel jy maar vir telefoniese hulp. Ek het nog nooit in my lewe so onseker gevoel nie, maar is daardeur.”
Danie Pretorius sluit in Februarie 1984 by die firma aan.
In 1987 bedank Jan Rauch en besluit om in die Bloemfontein-distrik te gaan boer. Hy keer in 1992 terug Mosselbaai toe en praktiseer op sy eie in Cuffstraat. Hy is in Julie 1995 oorlede.
Hansie Oosthuizen tree in Desember 1988 af.
Komplimentêre strokies en kwitansies.
Komplimentêre strokies en kwitansies.
‘n Vaste adress
Rauch Gertenbach Prokureurs trek in 1990, die jaar toe Nelson Mandela vrygelaat word, na hulle huidige adres – Kerkstraat 10, wat voorheen die tuiste van die Mossel Bay Advertiser was.
Chappie Gertenbach lê die tuig op 30 April 2005 neer en spandeer sy aftrede as boer in die Brandwag-omgewing, buite Mosselbaai. Gewild soos hy onder beide kliënte en personeel was, is daar tydens ‘n spogonthaal van hom afskeid geneem.
Met die verdere verloop van tyd, brei die firma steeds doelgerig uit. Van die name, waaronder van die huidige vennote, kom een na die ander by.
Mavis Victor, wat feitlik sedert die ontstaan van die firma deel van die personeel was, verlaat Rauch Gertenbach op 30 Junie 2008. Sy het 55 jaar vir die firma gewerk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'