MOSSELBAAI NUUS - Twané Herbst (18), ’n gr. 12-leerder van Hoërskool Punt in Mosselbaai, het onlangs tweede plek in Rapport en Netwerk24 se matriekafskeidkompetisie gehaal.
Gr. 12-leerders van regoor die land stuur ’n foto van hul matriekafskeidsrokke en -pakke na dié publikasies vir ’n kans om vir Suid-Afrika te wys hoe mooi hulle tydens hul matriekafskeid gelyk het, asook om groot pryse te wen.
Twané sê die inspirasie vir haar rok was een van dié wat Natasha Joubert gedra het. Joubert is ’n voormalige Mej. Suid-Afrika. “Natasha is ’n goeie rolmodel vir jong vroue soos ek,” het sy vir Rapport gesê.
“Die geleentheid om ’n rok te dra soortgelyk aan hare was ’n eer.”
Hoewel sy nie eerste in die kompetisie geëindig het nie, is sy huis toe met ’n kontantprys van R3 000, ’n geskenkpak van Darling Sweets en ’n naweekwegbreek by een van die ATKV se oorde.
Hoërskool Punt se matriekafskeid het in Oktober plaasgevind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’