GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Emilio Plaatjies, die 25-jarige man wat die afgelope naweek in Groot-Brakrivier in ’n motorongeluk dood is, was “vrolik, talentvol en ’n regte mensemens”, sê sy ma, Amelda.
Die ongeluk het Saterdag 28 November omstreeks 23:00 in Amy Searlestraat plaasgevind. Slegs een voertuig, waarvan Plaatjies die bestuurder was, was in die ongeluk betrokke.
Uit die drie ander insittendes het een ernstige besering opgedoen en twee ligte besering, het sers. Lauriane Botha, woordvoerder vir die Groot-Brak-polisie, gesê. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
Amelda sê haar seun se talente het meestal met sy hande te doen gehad. “Die Here het hom met verskillende talente geseën. Hy het geskilder en kon omtrent enigiets regmaak.” Sy sê hy was slegs drie of vier jaar oud toe hy items al begin herstel het.
Emilio, of Milo soos baie hom genoem het, het in Groot-Brak grootgeword en het in Groot-Brakrivier Primêr en -Sekondêr skoolgegaan.
Amelda noem laggend nog ’n bynaam, Mieliemeel, wat ’n familielid hom gegee het.
Iets wat sy altyd sal onthou is een van die eerste goed wat hy sou sê as hy by die deur ingekom het: “‘Mammie, ek is honger...’ En dan is dit nét noedels!” lag sy.
“Hy was ’n seun wat mense aangetrek het; mense het sommer dadelik van hom gehou. En hy was altyd daar vir hulle.”
Dit alles, en Emilio en sy broer, Luandré, se getergery en sy onvoorspelbaarheid, maak beslis dat sy hom nie sal vergeet nie, sê Amelda.
Hulle is nog besig om die finale reëlings vir sy roudiens te finaliseer, maar Amelda sê hulle wil dit graag volgende week hou.
Emilio laat sy ma, pa (Ludick), broer en sy tweejarige dogtertjie agter.
*Op die versoek vir ’n foto van Emilio het sy ma gesê hy was nie een vir foto’s nie, en het sy gevra dat geeneen van hom gebruik word nie.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’