Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Mosselbaai-munisipaliteit se maandelikse raadsvergadering is vanoggend, 29 Junie, ontwrig deur 'n dringende mosie wat deur ICOSA ingestel is en deur opposisiepartye ondersteun is.
Die mosie volg na die bedanking van 'n voormalige DA-raadslid, Anco Barker, wat die DA-koukus van ongerymdhede beskuldig het met die aanstelling van die munisipale bestuurder.
Die aanstelling is gedoen, in weerwil van 'n opdrag van die Wes-Kaapse minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell en die destydse minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, dr Nkosazana Dlamini-Zuma om die munisipale bestuurder nie op die hoogste vlak van sy salarisskaal aan te stel nie.
Die speaker, Venolea Fortuin, 'n DA-raadslid, het die raad vir die eerste keer in 15 jaar vir drie ure verdaag, nadat opposisie-raadslede die voortgaan van die vergadering met vrae en punte van orde wat uitgeroep is, ontwrig het.
Willie Liebenberg, VF raadslid, sê: "Ons bevraagteken die redes agter die besluit van die DA-beheerde raad om die munisipale bestuurder op die hoogste salarisvlak vir sy posisie aan te stel, aangesien hulle in elk geval die meerderheid in die raad het."
Die Uitvoerende Burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé se woordvoerder, Aydn Parrott, het in 'n verklaring gesê dat die burgemeester geen kommentaar het oor die ontwrigting van die raadsvergadering nie. Hy sal indien nodig ná die raadsvergadering wat 13:00 hervat, 'n mediaverklaring uitreik.
Barker wat die raadsvergadering bygewoon het sê die speaker van die raad het haar mag misbruik deur 'n mosie van dringendheid volgens reël 53 nie dadelik aan te hoor nie, maar uit te stel tot aan die einde van die vergadering.
Barker sê sy sal definitief in die politiek bly en dit is haar demokratiese reg om by enige party aan te sluit. "Op hierdie stadium wil ek net hierdeur kom voor ek enige besluite oor 'n toekomstige werk en my loopbaan neem."
VIDEO - VF-raadslede Elroy Baron en Willie Liebenberg verduidelik die rede vir die dringende mosie.
VIDEO - Dawid Kamfer van Ocasa verduidelik waarom hulle 'n mosie ingedien het
Raadslede verlaat die Mosselbaai-munisipaliteit se raadsaal na die speaker 'n verdaging van 3 ure aangekondig het.
Ondersteuners van die Patriot Alliance het die raadsvergadering vanoggend bygewoon.
Elroy Baron en Willie Liebenberg, Vryheidsfront-raadslede en 'n ondersteuner by die Mosselbaai-munisipaliteit se gebou.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’