Gallery Video
TUINROETE NUUS - Teen laat Saterdagmiddag, 19 September, sou sowat 1 600 pare toutrekstewels hul hakke op die ATKV Hartenbos-amfiteater se velde ingeslaan het.
Dit is omdat 16 lande se nasionale en klubspanne sedert Woensdag al aan die klub- en wêreldtoutrekkampioenskappe deelneem. Die kompetisie sluit Saterdag af.
Volgens die mediabeampte vir SA Toutrek, Kittie Terblanche, is daar onder meer sowat 20 klubs van regoor Suid-Afrika. In die Eden-distrik sluit dit Hartenbos, Oudtshoorn en Riversdal in.
Ander lande wat hier verteenwoordig word is Baskeland, China, Duitsland, Italië, Nederland, Skotland, Swede, Chinese Taipei, België, Engeland, Ierland, Litaue, Pakistan, Switserland en Zimbabwe.
As deel van die SA-span het Terblanche natuurlik baie vertroue in en hoop vir die Suid-Afrikaners, maar sy sê ook daar is sterk kompetisie van elders. "Ons staan 'n goeie kans, veral met ons juniors. Hulle is ongelooflik goed, so hulle kan ons wêreldkampioene wees.
“By die seniors kan dit nogal 'n ingewikkelde storie wees. Ons gemengde span hoop vir die beste, en ons glo ons gaan op die podium staan, maar Switserland en Nederland is goed, asook die Duitsers."
Kry van die resultate op die Tug of War International Federation se Facebook-blad.
Lede van die publiek kan Vrydag en Saterdag van 09:00 tot 16:00 hierdie wêreldklastoutrek gaan kyk. Kaartjies is R50 per persoon en aanlyn by Webtickets beskikbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’