MOSSEL BAY NUUS - Die DA-koukus het 'n eksklusiewe verklaring aan die Mossel Bay Advertiser uitgereik ná die voormalige DA-raadslid, Anco Barker, aan 'n Sondagkoerant beweer het dat die raad opsetlik mislei is oor munisipale bestuurder Colin Puren se salarisskaal.
Barker het verlede Vrydag haar bedanking uit die party en as Mosselbaai-raadslid in 'n video op sosiale media bevestig.
Ongeag burgemeester Dirk Kotzé se eenparig-gedelegeerde bevoegdheid om die aanstelling en salaris van die munisipale bestuurder af te handel, is die aanstelling en salaris tydens die raadsvergadering van 30 Junie 2022 weer voor die raad gebring.
Barker was egter volgens die verklaring afwesig tydens dié vergadering.
Perspektief op Barker-kwessie
Mosselbaai-munisipaliteit stel voortreflike dienslewering voorop en die Demokratiese Alliansie (DA) as regerende party is opreg trots op ons reputasie as een van die beste plaaslike owerhede in die land, gegrond op terugvoer deur onafhanklike graderings oor verskeie jare.
Die grondslag van hierdie suksesse berus op politieke stabiliteit, toeganklikheid, deursigtigheid, verantwoordbaarheid, asook die toewyding van kundige amptenare vir wie dienslewering werklik 'n passie is.
Sopas het die munisipaliteit weer 'n skoon ouditverslag van die ouditeur-generaal ontvang, terwyl die gerekende graderingsmaatskappy, Ratings Afrika, Mosselbaai onlangs gesamentlik as derde-beste in die land uitgemerk het met slegs twee punte die verskil tussen eerste en derde plek.
Ons uitvoerende burgemeester, Raadsheer Dirk Kotzé sê: "As munisipalteit en as 'n Raad, stel ons ons gemeenskap eerste in alles wat ons doen en word 'n baie hoë premie op uitnemendheid en dienslewering geplaas."
Met die aanstelling van Colin Puren as munisipale bestuurder, was uitnemende bevoegdheid dan ook die uitgangspunt.
Beweringe deur me Anco Barker, 'n voormalige raadslid, oor die aanstelling van die munisipale bestuurder, is oningelig en gegrond op wanvoorstelling.
Sy beweer die Raad is opsetlik mislei aangesien inligting oor die salarisskaal waarop die munisipale bestuurder aangestel is, van raadslede weerhou is.
Inteendeel
Eenparig
• Tydens die raadsvergadering van 9 Februarie 2022, waar me Barker teenwoordig was, het die volle Raad item (CG (1)1-02/2022) betreffende die aanstelling, werwing- en keuringsproses van die munisipale bestuurder, Colin Puren, eenparig goedgekeur,
asook ook dat al die vereistes ingevolge Regulasie 17(1) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (32:2000): Plaaslike Regering: Regulasies oor die aanstelling en diensvoorwaardes van senior bestuurders, behoorlik nagekom is.
• Op dieselfde vergadering het die volle Raad gedelegeerde magte aan die Uitvoerende Burgemeester, Raadsheer Dirk Kotzé toegeken: "That delegated powers be awarded to the Executive Mayor to conclude the remuneration package. The remuneration package will be within the remuneration limits of Notice GN 1092, CG 41173 (10 October 2017) of the Local Government: Municipal Systems Act, 2000 (Act No 32 of 2000) and that the performance-based contract makes provision for a performance-based bonus in terms of the Regulations."
Hierdie eenparige delegasie het die burgemeester volmag gegee om die aanstellingsproses, insluitend gepaste vergoeding, te onderhandel en te voltrek.
• Ook op 9 Februarie, tydens die In-komitee-sitting van die raadsvergadering, is die volledige resultate van die keurkomitee se verslag, insluitend kwalifikasies, met alle Raadslede gedeel.
'n Eksterne, onafhanklike diensverskaffer het die keuringsproses gefasiliteer. Die keuringspaneel se bevindinge en puntetoekennings het mnr Puren verreweg as die voorkeur- en geskikste kandidaat vir aanstelling as munisipale bestuurder voorgehou aangesien hy
(1) oor die vereiste kwalifikasies, in terme van die Regulasies, beskik, en
(2) bewys gelewer het dat hy bevoeg is, gegrond op die
(3) skriftelike assessering,
(4) paneelonderhoude, en
(5) sy bewese diensleweringsrekord.
Deursigtigheid
Die keuringsverslag is met die volle raad gedeel aangesien 'n munisipale Raad hul moet vergewis dat
• die kandidaat aan die toepaslike bevoegdheidsvereistes voldoen, en
• dat die kandidaat nie verskyn op die rekord van personeellede wat weens wangedrag afgedank is soos uiteengesit in die gemelde Regulasies nie. (verwys Regulasie 17 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (32:2000): Plaaslike Regering: Regulasies oor die aanstelling en diensvoorwaardes van senior bestuurders)
Geen raadslid kan dus aanvoer dat hulle nie volledige insae gehad nie het in
• die keuringsproses,
• die bevindinge van die keurproses,
• die uitslag van die psogometriese toetse,
• die kwalifikasies, bevoegdhede en ondervinding van mnr Colin Puren.
Tydens hierdie vergadering is die burgemeester eenparig deur die volle Raad getaak met die afhandeling van die aanstelling en onderhandeling van gepaste vergoedingspakket van die munisipale bestuurder.
Uiters ervare
Colin Puren het meer as 40-jaar ervaring in plaaslike owerheid en het geruime tyd voor sy permanente aanstelling as munisipale bestuurder as sodanig waargeneem en uitnemend presteer.
Hy beskik oor 'n Honneursgraad in Publieke Administrasie (Cum Laude) (NQF vlak 8). Buiten dat hy vir ses jaar die hoof van munisipale verkeersdienste in Mosselbaai was, het hy 13-jaar as direkteur van gemeenskapsdienste gedien.
Hy was ook vyf jaar die strategiese uitvoerende beampte in die kantoor van die munisipale bestuurder voordat hy as waarnemende munisipale bestuurder by sy voorganger oorgeneem het. Mnr Puren het, in aggenome al hierdie vereistes, kop en skouers bo die res van die kandidate presteer die onderhoudsproses.
In aggenome hierdie agtergrond, en nie uitsluitlik net sekere evaluasie-uitslae nie, was die aanbeveling aan die Raad dat mnr Puren oor bo-gemiddelde kwalifikasies beskik vir die pos as munisipale bestuurder en dat hy gevolglik op die top kerf van die voorgestelde regulasies vir vergoeding aangestel word.
Die Raad, as werkgewer, stel die munisipale bestuurder aan en (ingevolge die regulasies) ook die vergoeding en, uiteindelik, doen die raad direk verantwoording vir dienslewering aan ons gemeenskap.
Ministeriële skrywes
Burgemeester Kotzé, wat eenparig deur die volle Raad getaak was met die afhandeling van die gepaste vergoedingspakket vir ons munisipale bestuurder, het die aanstelling van die munisipale bestuurder ingevolge wetgewing aan beide die Wes-Kaapse provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, minister Anton Bredell en die destydse minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Dr Nkosazana Dlamini-Zuma, gerapporteer.
Skriftelike terugvoer van hierdie ministeries was egter teenstrydig.
Gevolglik het die burgemeester deeglik navorsing gedoen, wyd gekonsulteer met die burgemeesters en munisipale bestuurders van munisipaliteite soortgelyk aan Mosselbaai, asook met spesialiskonsultante in menslike hulpbronbestuur en spesialis-regslui om sodoende die tendens te bepaal, alvorens die munisipale bestuurder se salarisskaal bepaal is.
30 Junie
Ongeag die burgemeester se eenparig-gedelegeerde bevoegdheid om die aanstelling en salaris van die munisipale bestuurder af te handel, en hoewel nie 'n vereiste nie - maar juis ter wille van deursigtigheid - is die aanstelling en salaris van die munisipale bestuurder tydens die raadsvergadering van 30 Junie 2022, waar me Barker afwesig was, weer voor die Raad gebring.
Weer eens is mnr Puren se aanstelling eenparig en entoesiasties aanvaar.
Daar moet daarop gelet word dat die Administrasie items voorberei wat voor die raad dien en dus onderskei word tussen items wat voor die Raad dien, en die mosies wat politici voor die raad bring.
Let daarop dat die Administrasie die items voorberei wat voor die Raad dien - daarenteen bring politici mosies voor die raad.
Nié die burgemeester nie, en nie enige raadslede het die administrasie beïnvloed om enige van die briewe van die Raad te weerhou nie. Daar word dus aangevoer dat me Barker geen bewyse tot die teenkanting kan lewer nie en dat gaar aantygings dus die publiek mislei.
Me Barker het, in die voorafgaande sowat 12 maande, nooit ‘n klagte oor die vergoeding van die munisipale bestuurder by die DA se interne ‘Governance Unit’ aanhangig gemaak nie.
Eenparig herroep
• Op 30 Junie 2022, omstreeks 08:00, is me Barker deur die Koukus-bestuur ingelig dat haar herroeping van die Garden Route Distriksmunisipaliteit (GRDM) aan die volle koukus vir oorweging gestel gaan word. Daarna het sy verkies om nié die Koukusvergadering van 30 Junie, en/of die munisipale raadsvergadering op dieselfde dag, waar die vergoeding van mnr Puren voorgelê en gedebatteer is, by te woon nie.
Enige aantyging dat vergelding die motivering was om me Barker te herroep weens navrae oor die munisipale bestuurder se salaris, word kategories ontken.
Inteendeel, verskeie raadslede, onder meer die Sweep, het, ter wille van klarigheid, vrae oor die vergoeding van die munisipale bestuurder geopper en 'n lewendige gesprek is daaroor aangemoedig tydens koukusbyeenkomste, onder meer ook op 30 Junie 2022 waar me Barker afwesig was.
Die Mosselbaai DA-koukus is bekend vir dissipline, doeltreffende bestuur, samehorigheid en standvastige stabiliteit, kenmerke wat ononderhandelbaar is.
Die Koukus het me Barker eenparig herroep nadat vertroue in haar sekondering verloor is weens verskeie klagtes en gebeure oor etlike voorgaande maande.
Die Koukus-leierskap het desondanks volgehou om goeie verhoudinge onderling aan te moedig en verskeie gesprekke het met me Barker gevolg in dié verband en waar sy herhaaldelik geadviseer was om, as ‘n jong raadslid, liefs te fokus om brûe te bou.
Tog het sy haarself eerder eensydig van ‘n amptelike Koukus-Whatsapp-groep verwyder, voortgegaan om haar kollegas kwaadwillig teenoor eksterne party-leiers te beskinder en opsetlik probeer om die swaarverdiende reputasie van die Koukus te beswadder.
Die onenigheid was ongelukkig nie tot net die Mosselbaai-koukus beperk nie, klagtes het ook die Mosselbaai Speaker bereik vanuit die GRDM-koukus. Me Barker, wat verkies was om die Mosselbaai-koukus by die GRDM te verteenwoordig, se optrede het swak gereflekteer op die Mosselbaai-koukus se goeie reputasie.
Dié eenparige besluit van die Koukus om haar te herroep was spesifiek bedoel om haar te lei om binne die partystrukture te ontwikkel en te groei deur volgehoue mentorskap. Die redes vir haar herroeping was behoorlik deur die koukusleierskap met haar gekommunikeer.
Die Mosselbaai DA-koukus stel eenheid, samehorigheid en spanwerk voorop en het me Barker as een van die span geag.
Teen hierdie agtergrond, is die onlangse beweringe van me Barker in die media ongegrond, stellig kwaadwillig en aanvegbaar.
Nietemin wens die DA Mosselbaai-koukus haar die beste toe vir haar toekoms.
LEES MEER: Raadslid bedank oor 'oneerlikheid'
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’