MOSSELBAAI NUUS - DA-raadslid Anco Barker het haar bedanking uit die party en as Mosselbaai-raadslid in 'n video op sosiale media bevestig en beskuldig die DA van oneerlike optrede.
Barker het Vrydag haar bedanking uit die party ingedien en gesê sy kan nie langer swyg oor beweerde onwettige optrede wat inwoners van Mosselbaai glo kan benadeel nie.
In die video sê Barker sy het in November 2021 'n eed afgelê “dat ek getrou sal wees aan die Republiek van Suid-Afrika en ek het by daardie eed gestaan”.
“Ek het gesien hoe die DA-koukus in Mosselbaai op 'n ongepaste, oneerlike en ondeursigtige wyse opgetree het deur willens en wetens kritiese inligting van agendapunte te weerhou om die raad te mislei."
Dit is nie tans bekend na watter aangeleentheid/e en sogenaamde oneerlikheid Barker verwys nie.
Jaco Londt, politieke hoof van die DA Mosselbaai, sê in ‘n persverklaring hulle respekteer Barker se besluit om te bedank en wens haar sterkte toe.
“Mosselbaai is trots op ons diensleweringsrekord en dit word geïllustreer in die sterk mandaat wat ons ontvang het en het aansienlike groei in die mees onlangse verkiesing getoon.”
Londt sê hulle is 'n party vir almal. "Ons voer robuuste debat en verseker dan dat ons as 'n geheel besluite neem tot voordeel van die hele gemeenskap.”
Hy sê die DA se rekord van dienslewering en vermoë om buite die boks te dink om uitdagings aan te pak, is een waarop hulle as ‘n party trots is en een waarna hulle daagliks streef om voort te gaan en daarop voort te bou.
Barker is 'n PR-raadslid en haar posisie kan dus deur die party vervang word. Die DA het reeds die proses begin om haar posisie te vul.
"Ons sien uit om binnekort iemand in die span te verwelkom wat positief sal bydrae om Mosselbaai vorentoe te neem," sê Londt.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’