Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Matriekleerder van Hoërskool Punt, Anke du Preez, wat op 25 Augustus ernstig in 'n motorfietsongeluk in Louis Fourieweg in Voorbaai beseer is, vorder mooi met haar herstel.
Haar ma, Hannetjie Schoeman, het die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser gesê Anke is steeds in die hospitaal, waar sy ná die ongeluk behandel word vir onder meer pelvisbeserings, 'n gebreekte arm en neus.
Volgens Schoeman kan Anke reeds praat en is sy by haar bewussyn, maar het die ongeluk haar geheue aangetas.
"Sy praat en alles, maar sy kan nie alles onthou nie," het Schoeman gesê.
Anke kan steeds nie loop nie en kan weens haar pelvisbeserings ook nog nie heeltemal regop sit nie.
Haar herstel sal na verwagting 'n lang proses wees.
Sy moet volgens Schoeman op 25 September na Groote Schuur-hospitaal gaan vir 'n skandering.
Dit is nog nie bekend hoe lank sy daarna in die hospitaal sal moet bly nie.
Die gesin weet ook nog nie of Anke vanjaar haar matriekeksamen sal kan aflê nie.
Schoeman sê dit lyk op hierdie stadium waarskynlik dat sy dit eers volgende jaar sal kan skryf.
Intussen fokus die gesin daarop om Anke se herstel stap vir stap te ondersteun.
'n BackaBuddy-veldtog, Help Anke Du Preez Recover and Rebuild Her Future, is intussen van stapel gestuur om die gesin met die koste van haar behandeling en lang herstelproses te help.
Die gesin het nie 'n mediese fonds nie.
Vorige artikels:
- Jong Mosselbaaier stel haar eerste liedjie op Spotify vry
- Matriekleerder ernstig beseer in Mosselbaai-ongeluk
- Punt-matriekleerder in mediese koma ná ongeluk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’