MOSSELBAAI NUUS - As jy 'n passie vir iets het, maak dit die aanleer daarvan glo heelwat makliker.
Altans, só reken Anke du Preez, 'n 17-jarige Mosselbaaier wat onlangs haar eerste liedjie op Spotify vrygestel het.
Die liedjie, "Vir 'n vrou", is dalk haar eerste op hierdie musiekstromingsdiens, maar nie die eerste wat sy al ooit geskryf het nie, vertel Anke.
"Vir 'n vrou" het sy meestal self geskryf, maar ook hulp van Roelf Fritz ontvang - Fritz het haar ook deur die hele liedjievrystelproses gehelp, iets waarvoor sy opreg dankbaar is.
"Om 'n liedjie te publiseer is moeiliker as wat mense dink. Jy kort 'n ordentlike studio, die regte toerusting en ordentlike/opregte mense wat jou kan help."
In "Vir 'n vrou" sing sy uit 'n vrou se perspektief. "Vir 'n man; hoe hy 'n vrou moet behandel wat hom wil hou," sê Anke.
Een van haar vriendinne se verhouding was die inspirasie agter die lied. "Sy het met 'n baie toksiese outjie uitgegaan. Ek kon sien hoe sleg hy haar behandel en afgebreek het," sê sy.
'n Volgende liedjie is reeds op pad, maar oor dié is sy nog baie geheimsinnig.
Sing en kitaarspeel is al vir vier jaar deel van haar lewe. "Ek het myself geleer hoe om al twee te doen omdat ons nie klasse kon vind nie. Omdat dit my passie is, het ek maklik geleer."
Natuurlik is 'n loopbaan as sanger in die toekomsplanne, maar as dit nie vir haar uitwerk nie, sê Anke sal sy graag op die skepe wil gaan werk of 'n kitaarskool oopmaak. Sy gee reeds in haar vrye tyd kitaarlesse.
Tans bestaan haar daaglikse lewe uit skoolgaan en daarna werk afhandel of klasgee. Sy is ook 'n gesertifiseerde lewensredder en het verskeie ander dinge waarmee sy haarself besig hou.
Klik hier om haar liedjie te luister: "Vir 'n vrou"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’