Dis nie maklik om verslag te doen oor 'n leeftyd van amper 'n eeu nie, want om 99 jaar se herinnerige sommerso in 'n neutedop saam te vat, is haas onmoontlik. Sy dogter, Annelize Pienaar, verduidelik dat sy maar haar pa se vertellings begin neerskyf het in 'n reeks blog-stories. En vertel, dié kan hy!
Deur die loopgrawe van die lewe
Soos meeste van sy tydgenote uit die vroeë 1900's, was sy kinderjare op Brandfort in die Vrystaat ongekompliseerd. Wessel, wat reeds in Julie 1973 afgetree het, wou bitter graag boer, maar het besef dat die verdeling van hulle geliefde plaas onder hom en sy broers nie 'n lewensvatbare opsie sou wees nie. Koppieskraal, die familieplaas, is egter steeds sy lieflingsplek.
Hy het sy heil op die myne gaan soek, maar toe hy met verkoue vir 'n onderhoud opdaag, is hy weggewys, aangesien daar gereken is dat hy 'te sieklik is'. Hieroor lag die familie lekker, want vandag op 99 is sy enigste gesondheidsklagte dat hy nie meer so goed kan sien nie.
In 1938 sluit Wessel hom by die polisie aan en verruil die plattelandse eenvoud vir die bedrywigheid van Johannesburg. Suid-Afrika was toe nog onder die Britse kroon. Hiervandaan is hy na Noord-Afrika as deel van 'n polisiebrigade om deel te neem aan die Tweede Wêreldoorlog.
Dis hier waar sy skerp geheue verstom. Hy vertel van hoe hulle loopgrawe in die woestyn by El Alamein moes grawe.
In Junie 1942 word hy krygsgevangene geneem en reis per boot van Libië na Italië. Hy vertel van dié angsvaart, met gevaarlike duikbote wat oral in die Middellandse See krioel het.
Mens glimlag vir sy beskrywing van die haglike omstandighede in die kamp in Italië.
"As jy nou vlooie en luise wil sien Super Rugby speel op jou lyf, moes jy daar gewees het."
Hongersnood dryf hom en sy makkers daartoe om lusern te eet vir oorlewing, maar hulle slaag daarin om te ontsnap. Hulle word egter weer gevange geneem deur die Duisters, op beestrokke gelaai, sonder kos of water, en oor die Alpe aangery na Oostenryk.
Wessel beland in Joegoslavië, waar hy op 'n plaas in die wingerde werk, steeds as krygsgevangene.
"Hier het ons sowaar geel mieliepap gekry," lag hy, "Ek het selfs 'n paar meisies gehad, want onthou, die mans daar was almal oorlog toe!"
Maar steeds was dit het einde niet. Sy krygsgevangetog, wat 200km se stap insluit, neem hom terug na Salzburg, Oostenryk. Hier, beskryf hy met emosie hoe hy op 9 Mei 1945 gehoor het dat die oorlog verby is.
Nadat die Amerikaners hulle ontset het, is hy na Frankryk en toe na Londen, 'waar hulle selfs op 'n toer geneem is'.
Groot was die vreugde egter toe hy op sy geboortedorp Brandfort aankom, aangesien sy ouers se enigste nuus oor hom in drie jaar, die Rooi Kruis se kennisgewing was dat hy gevange geneem is. Kort na sy tuiskoms, ontmoet Wessel sy Enna in Kroonstad.
"En toe's ek weer 'n gevangene, maar se-dertdien kry ek die beste behandeling ooit," spot hy. Dié twee is al meer as 65 jaar getroud en volgens hulle seun Herman, ken sy ma en pa mekaar soos 'n boek. Enna bevestig dit –"Wees net lief vir mekaar en wees aanpasbaar."
Die lewenskuns saamgevat
Wessel se skoondogter loof hom vir sy perspektief op die lewe.
"Vir 'n man van sy ouderdom, is hy baie liberaal, sê Cecilia Oosthuizen.
"As my pa nie kan slaap nie, dan lê hy en lag," vertel sy dogter Annelize.
Wessel beaam dat 'n goeie sin vir humor 'n spreekwoordelike lewensredder is. Dít en oefening. "'n Mens moet fiks bly en nie jou liggaam afskeep nie." Tot op sy 90ste jaar, het hy nog daagliks afgedraf see toe en gaan swem.
"Swaarkry was 'n groot leerskool vir my pa. Dit het hom geleer om te kyk na die groter geheel," sê sy seun Herman.
Wessel som sy lewenskuns bondig op. "Ek het 'n geloof en vertroue in God, dat alles ten goede gebeur. Selfs onreg – dít het my lewenservaring my geleer."
Die skerpsinnige Wessel Oosthuizen van Hartenbos is op 13 Julie 1913 gebore en vier môre sy honderdste verjaarsdag. Hier is saam met sy vrou Enna, seun Herman en skoondogter Cecilia Oosthuizen (links), dogter Annelize en skoonseun Dappie Pienaar (regs). Voor is twee van sy kleinseuns, Herman en Werner Oosthuizen. Wessel het nog twee kleinkinders en vier agterkleinkinders. Foto: Cornelle Carstens
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'