MOSSELBAAI NUUS - Dieter Voigt het as Mosselbaai-skoolseun baie sporttyd op Santosstrand spandeer.
Hy het egter nie in sy wildste drome gedink hy gaan eendag as afrigter van atlete na dié strand terugkeer nie.
Voigt, vir baie bekend as Mnr. Suid-Afrika 2007 en aanbieder op die TV-program Pasella, is 'n gebore Mosselbaaier en het by Laerskool Park en Hoërskool Punt skoolgegaan.
Dié terugkeer na sy geboortedorp in Desember is egter as een van die afrigters van die Suid-Afrikaanse span wat aan die UIPM (moderne vyfkamp se internasionale beheerliggaam) se wêreldkampioenskap vir tweekamp, driekamp en laserwedloop (laserpistoolskiet en hardloop) sal deelneem.
Die kompetisie sal van 8 tot 13 Desember op Santosstrand plaasvind en die publiek is welkom - Voigt sê hulle verwag deelnemers van ongeveer 40 lande.
Vir diegene wat maar min van hierdie vinnig groeiende sport weet, verduidelik hy so 'n bietjie meer daaroor: "Dit is 'n sport vol uitdagings met verskillende ontwikkelingsbene. In Mosselbaai gaan ons biathle sien, wat uit hardloop, swem en weer hardloop bestaan. Daar gaan ook triathle wees - hardloop, laserpistoolskiet en swem.
"Die kompetisie sluit vanjaar met laser run af, waar atlete hardloop, laserpistool skiet en weer hardloop. Al drie kompetisies vorm deel van die Olimpiese sport, moderne vyfkamp."
Voigt sê hy het mooi en gelukkige kinderjare op Santosstand spandeer. "Dit is waar ek leer swem het, touch rugby gespeel het en baie harde oefensessies as atleet en rugbyspeler gehad het. Ek het ook as student vir Mosselbaai-toerisme vakansiewerk op die strand gedoen. In 2000 het ek my eerste modelkompetisie op Santosstrand gewen. Een van my gunstelinginsetsels [op Pasella] was toe ek weer in Mosselbaai kon kom stories bymekaarmaak."
In die laaste 12 jaar rig hy voltyds atlete in Kaapstad af. Sy huidige oefengroep bestaan meestal uit multisportatlete, en hy sê hy groei en ontwikkel saam met hulle.
Hy is in 2014 saam met hulle na Batumi, Georgia, vir die wêreldkampioenskappe vir tweekamp en driekamp, waar drie uit sy groep goue medaljes verower het. "Daarna het ons gereeld oorsee deelgeneem. Ek was in 2022 ook die afrigter van die SA span wat die wêreldkampioenskappe in Madeira, Portugal, gewen het.
"Ek probeer my atlete help om hul drome waar te maak. Nadat Aimee Scott in 2014 vir my gevra het om haar te help voorberei, het die gogga behoorlik gebyt. Dit is die grootste voorreg om te sien hoe atlete groei en die nodige vaardighede ontwikkel om op die hoogste vlak aan hierdie sport deel te neem. Daar is vir my geen groter gevoel van selfaktualisering as om saam met 'n atleet op hierdie reis na hulle persoonlike beste te wees nie."
Voigt sê dit is 'n lekker uitdagende sport wat jou fiksheid en karakter toets. Dit is ook een van die min sporte wat internasonale toergeleenthede moontlik maak, sê hy.
"Ek het die voorreg gehad om in 1995 op 17-jarige ouderdom as deel van Hoërskool Punt se eerste rugbyspan in die Britse Eilande te gaan toer. Dit was 'n eerste vir my.
"In my groep is atlete wat op 17 al in meer as sewe lande deelgeneem het in biathle, triathle of laser run. Die lewenservaring wat saam met dié geleenthede gaan is groter as wat ooit in 'n klaskamer geleer kan word. Ek weet; ek was vir 10 jaar ook 'n onderwyser."
Voigt sê hy het as jong seun 'n paar wonderlike onderwysers en afrigters gehad wat 'n enorme invloed op sy vorming as afrigter en sportman gehad het.
"My LO-onderwysers, rugbyafrigters en atletiekafrigters was seker my grootste mentors. Mnr. Pine Marais is deesdae by Hoërskool Oakdale betrokke; hy was seker my grootste inspirasie as hoërskoolafrigter, saam met mnr. Johan Cilliers van Laerskool Park."
Vir sy eie atlete en elke ander een wat aan die komende wêreldkampioenskappe deelneem, het hy hierdie boodskap:
"Geniet die voorreg om in hierdie pragtige dorpie deel te neem. Mag dit een van julle lewenshoogtepunte wees. Mag julle al jul doelwitte in die kompetisie bereik, maar mag julle ook hegte vriendskappe bou. Gaan uit, gee jou beste in alles wat jy aanpak en moenie terugstaan vir enigiemand nie. Jy is gebore vir 'n tyd soos nou - gee jou alles!"
Hy het enige besoekers ook aangemoedig om die SA span te kom ondersteun met die belofte: "Hulle gaan julle trots maak!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’