MOSSELBAAI NUUS - Oud of jonk, vrou of man, hierdie kreatiewe tydverdryf is werklik vir elkeen moontlik - én toeganklik!
Só meen Suzy Doubell, die hoofhen van Die Wolslim Henne/Haan, 'n brei- en hekelgroep wat weekliks bymekaarkom.
Hekel, brei en naaldwerk is hoe sy haarself kreatief uitleef en sommer terselfdertyd 'n verskil maak waar sy kan.
Doubell het in Bultfontein in die Vrystaat grootgeword, waar haar ma haar van kleins af geleer het om te brei en naaldwerk te doen - die hekelvaardighede het eers later gekom.
"Sy het voor die masjien gesit, dan druk sy 'n lappetjie en 'n naald en gare in my hand en dan werk 'n ek ook nou kamstig. Toe ek 'n bietjie groter was, het sy vir my steke op 'n breipen gesit, dan het ek so 'n dingetjie gebrei en dit sommer om my arm gesit, of so. En toe ek in die laerskool was, het ek een keer by 'n tannie gekuier en sy het my gewys hoe om te hekel. Ek onthou my eerste kombersie wat ek gehekel het was vir my ouma, 'n kniekombersie," vertel Doubell.
Hoewel sy daarna op hoërskool nie baie tyd hiervoor gehad het nie, het sy ná skool 'n naaldwerkkursus voltooi. Toe haar kinders klein was, het sy weer begin naaldwerk doen en later, toe hulle in Wepener, steeds in die Vrystaat, gewoon het, het sy 'n materiaalwinkel bedryf en 'n lewe daaruit gemaak.
Toe haar kinders eers uit die huis was en sy uiteindelik met haar aftrede hier in Mosselbaai beland het, het sy weer meer tyd vir hekel gehad.
Sy het aanvanklik by die Eden Knitwits aangesluit, maar nie lank daarna nie nog 'n groepie, vandag bekend as Die Wolslim Henne/Haan, begin. "Ons was 'n paar vriendinne, en ek sê toe ons moet 'n bietjie meer saamkuier. Een keer 'n maand is nie voldoende vir my nie! Hulle het toe gesê ek moet asseblief die hoofmeisie wees en dinge begin reël."
Die groepie was aanvanklik net henne, maar hulle enkele haan, Andries du Pisani, het later ook aangesluit.
Doubell sê daardie gevoel van "jy wil graag iets maak, en daai behoefte om te skep" is hoekom sy met hekel en brei voortgaan.
Haar hekelvaardighede het lank so net bokant beginnersvlak gehuiwer, sê sy, maar met die henne en haan se gereelde byeenkomste en 'n "fantastiese medium" soos YouTube het sy intussen baie geleer en talle idees gekry.
"Ek wil vir jou sê, die vinnigste wat ek gekom het waar ek nou is, is eintlik die laaste paar jaar deur YouTube-goedjies te kyk - daar kry mens idees en jy sien wat werk en wat werk nie, en nou het ek tyd daarvoor."
Die proses van kreatief wees is wat sy die meeste van hierdie stokperdjies geniet. "Dit maak nou nie saak of dit hekel of brei of naaldwerk is nie, die groot ding is net, daar moet 'n doel wees. Om my te inspireer, moet ek weet ek doen dit vir iets of vir iemand. Ek het baie min van my eie goed wat ek gemaak het in die huis; alles word geskenk."
Dit is ook wat dit so lekker maak by hulle groepie, sê sy, want hulle het verskillende liefdadigheidsorganisasies waarvoor hulle ook skenk.
Baie van die groepslede is al afgetree en wil steeds voel hulle maak êrens 'n verskil. Dit was dalk nie die aanvanklike doel nie, maar Doubell sê hulle het met die groep onbewustelik 'n ruimte geskep waar mense uit die huis kan kom en voel hulle beteken iets.
Sy moedig enigeen, veral jongmense, aan om te leer hekel of brei. Sy sê dit is iets wat jy tot in jou oudag kan doen, en dat die konsentrasie wat dit vereis, hoewel dit ontspannend is, ook help om jou brein skerp te hou.
En die belangrikste ding om te onthou is dat jou skepping altyd goed genoeg is. "Ek sê dit altyd vir die groep ook - jy is goed genoeg, en jou skeppings is goed genoeg!"
Vir meer inligting oor Die Wolslim Henne/Haan en wanneer en waar hul volgende byeenkoms plaasvind, kontak Doubell by 083 262 8084.