MOSSELBAAI NUUS - 25 Februarie vanjaar het vir Rudolf Botha, ’n onderwyser en adjunkhoof by Hoërskool Punt, soos enige ander dag begin.
Hy was vroeg op, hy’t sy kinders gegroet en skool toe geneem...
Die enigste verandering was dat hy daardie dag sou ingaan vir ’n operasie om ’n nieskadelike gewas naby sy spinale koord te laat verwyder.
Ses ure later het die wrede werklikheid geslaan - en kon hy nie loop nie. Daar was en bly egter steeds hoop vir hom om weer te kan loop.
Intussen was hy in ’n rehabilitasiesentrum in die Kaap en is hy darem nou weer tuis in Mosselbaai.
“Die vordering by die huis gaan goed, alhoewel dit stadiger is as wat ek gehoop het,” sê Botha.
“Maar die tyd sal leer, en ons werk elke dag hard om sterker en beter te raak. Alles op ons Liewe Vader se tyd. Ek gaan volgende kwartaal terug skool toe, waar daar natuurlik ’n klomp nuwe uitdagings sal wees, maar soos altyd is my motto ‘Bring it on’ - ek is reg en my reis is nog lank nie verby nie.
“Ek het in hierdie kort rukkie besef in watter ongelooflike gemeenskap ons is en hoe mense nog vir mekaar kan omgee. Ek wens ek kon elke persoon wat ’n bydrae gemaak het persoonlik bedank, maar dis ’n onbegonne taak.”
Daarom het hy ’n skrywe op sy sosiale media en met Mossel Bay Advertiser gedeel om uit sy hart uit dánkie te sê aan ieder en elk wat die afgelope tyd ’n rol gespeel het en aan hom en sy gesin gedink het en hulle gehelp het.
“Eerstens aan my Hemelse Vader wat my deur alles gespaar het en by my in my moeilikste en donkerste tye was. Daar waar jy begin twyfel en wonder of dit nie maar beter sou wees as die Here jou kom haal nie...
“Dankie, liewe ds. Divvie van Niekerk, dat jy kort-kort kom draai het en gebel het om seker te maak dat die lewenslyn tussen my en ons Liewe Vader oopbly. Jy het my soveel moed ingepraat en deurentyd verseker van die Here se liefde vir my en Sy plan vir my lewe.
“Langs my sy, al die pad, Riana. Ek besef hierdie gebeurtenis raak nie net vir my nie, maar vir jou net soveel, indien nie meer nie. Jy is ’n absolute yster! Dankie, my vrou! Ek is regtig jammer dat daar nou soveel op jou skouers rus, en jy kom vir seker jou belofte van ‘in sickness and in health’ goed na...
“Ek staan nederig en klein omdat ek besef dat ek hierdie lewensveranderende gebeurtenis nie alleen sou kon hanteer nie.”
Die oorvloed van dankies van hom en sy gesin gaan verder aan familie, vriende, bure, personeel, skoolkinders, mediese personeel, vreemdelinge en soveel ander.
Hy het sommiges van hulle in sy plasing uitgesonder, maar erken dis ontmoontlik om almal te noem, en hy wil net hê elkeen moet weet hoe opreg hy en sy gesin hierdie ondersteuning waardeer.
Vorige artikels:
- Hoërskool Punt-onderwyser tydelik verlam ná operasie, maar positief
- Hoërskool Punt se mnr. Rudolf vaar goed met rehabilitasie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’