Video
MOSSELBAAI NUUS - 'n Hoërskool Punt-onderwyser, Rudolf Botha, ondergaan tans rehabilitasie vir tydelike verlamming van sy bene ná 'n operasie om 'n gewas op sy spinale koord te verwyder.
Botha is al vir 18 jaar by die skool en is een van die adjunkhoofde. Hy gee ook wiskunde vir graad 9 tot 12, is die hoof van krieket en ook betrokke by afrigting van die eerste krieketspan.
Hy sê daar is nie permanente skade aan sy spinale koord in die sin van iets wat "raakgesny is of so nie", maar hy moet nou weer 'n paar vaardighede in rehabilitasie aanleer.
Mossel Bay Advertiser het nog op 21 Februarie op Santosstrand met Botha gesels terwyl hy as afsitter by Punt se jaarlikse vlotvaart gewerk het.
"Dit was 'n groot skok. Jy staan nog een dag... soos jy sê, ek het letterlik daardie Vrydag nog vlotvaart gedoen en [na die operasie] het ek nie meer bene nie..."
Die operasie het gevolg ná 'n besoek aan sy huisdokter aan die begin van Januarie as gevolg van 'n seer rug. Sy dokter het hom verwys vir 'n MRI-skandering, waarna hy die nuus gekry het dat daar 'n gewas op sy spinale koord groei.
Hulle maak toe 'n datum vas vir die operasie, maar het nooit gedink dít is hoe dit gaan uitdraai nie. "Jy weet, daar is mos maar altyd met 'n operasie moontlike newe-effekte, maar 'n ou gaan mos nie in met daai gedagte dat daar moontlik iets kan verkeerd gaan nie.
Video: Punt-leerders sê sterkte, meneer Botha sê dankie
"Verlede Dinsdag is ek in en met die operasie, wat ses ure was, was daar so bietjie komplikasies. Volgens die dokter het die gewas bietjie vinniger gegroei as op die scan en daar was meer drukking gewees. Toe hulle hom verwyder was daar baie bloeding en hulle kon nie alles eers verwyder nie. Woensdagmiddag is ek weer geopereer, wat toe meer suksesvol was, maar ongelukkig was een van die probleme dat my bene nie 100% wou werk nie."
Botha is egter die ene positiwiteit, ten spyte van sy huidige situasie.
"Wonder bo wonder (dankie, Liewe Vader van bo) het hulle my verwys na die rehabilitasie sentrum in Kaapstad, Vincent Palotti, en ek het 'n plekkie gekry hier." Hy is sedert verlede Vrydag daar ingeboek.
"En ja, ons moet positief staan, sterk staan; ek gaan nou weer 'n bietjie 'n paar skills leer. Ek het Maandag begin."
Hy lag en sê hulle werk hom hard, maar hy is positief en hy gaan vorentoe.
"Ek is dankbaar vir die kinders en die gemeenskap en dit is rêrig net amazing wat ek ervaar.
"Ons hoop en bid vir die beste. Ons glo dat die Liewe Vader ons hand gaan lei en bewaar en gaan help met hierdie ding; en wat ook al die uitslag is, dat dit net positief sal wees vir my sowel as vir my gesin, want dit is baie belangrik."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’