MOSSELBAAI NUUS - "Ek het onlangs in die nag wakker geword met 'n toe bors en 'n droë hoes. Die volgende oggend het ek erg tam gevoel. My keel was seer en my oë ligsensitief. Ek word nie gereeld siek nie en was onmiddellik bewus dat my simptome ooreenstem met dié van Covid-19.
Omdat ek in 'n verhouding is met iemand wat daagliks met bejaarde pasiënte werk, het ons saam besluit dat indien my simptome die volgende dag steeds dieselfde is, ek eerder vir 'n Covid-19 toets moet gaan.
'n Dag nadat ek simptome ontwikkel het, kontak ek suster Shjanneil Busch, wat in beheer is van die siftingstoetse op Groot-Brakrivier. Ek verduidelik my simptome. Sy is simpatiek en luister geduldig. Omdat die vraag na Covid-19-toetse aansienlik gestyg het sedert die uitbreek van die pandemie, wil ek my nie onnodig laat toets nie. Busch raai my aan om nog een dag te wag. Daarna kan ek haar weer kontak.
Kliniek toe
Die volgende oggend skakel ek haar. Ek voel siek. Volgens haar klink my simptome "baie verdag". Intussen skakel ek my huisdokter wat bevestig dat die toets my ongeveer R800 sal kos, omdat ek slegs 'n hospitaalplan het.
Omdat mense met verdagte simptome nie hul huisdokters kan besoek nie, kan hy my nie ondersoek nie. Hy stuur egter 'n voorskrif vir onder meer hoesstroop, 'n neussproei-middel en bruistablet vir griep en verkoue na die plaaslike apteek. Ek reël met 'n vriendin om die medikasie te bring.
Busch sê ek moet 10:00 by die kliniek op Groot-Brakrivier wees. Sy herinner my in 'n WhatsApp-boodskap dat ek my gesigmasker moet dra. By die kliniek ontvang 'n vrou my buite en vra dat ek my besonderhede vir haar op 'n papier neerskryf sodat sy vir my 'n lêer kan open.
Agter die kliniek is die area waar die Covid-19-toetse gedoen word. Voor my in die ry is reeds 'n ma en haar skoolgaande seun, 'n werknemer by 'n plaaslike supermark en 'n werknemer van die Mosselbaai-munisipaliteit. Die ma sê haar seun het griepsimptome en die twee werknemers sê hulle is deur hul werkgewers gestuur om getoets te word. Die atmosfeer is somber.
Ons staan sover van mekaar as wat die ruimte toelaat. Die werknemer van die plaaslike supermark hoes onophoudelik. Elke keer wanneer sy hoes, trek sy haar masker van haar gesig af. Later vra ek haar om haar masker op te hou terwyl sy hoes en sê toe vir haar dat dié van ons wat dalk negatief is, nie hier by die kliniek wil aansteek nie.
Die suster wat die toetse doen, het haar hande vol, want op dié betrokke oggend, is sy alleen aan diens.
Ongemaklik
Intussen kom nog ses mense hulle plekke inneem. Sy sukkel om hul besonderhede te kry, omdat hulle nie Engels of Afrikaans magtig is nie.
Ek wag vir ongeveer 'n uur voor sy my roep om te toets. Sy druk 'n baie lang stokkie in my een neusgat op. Dis uiters ongemaklik. Voor ek tot verhaal kan kom, is die anderkant van die stokkie in my ander neusgat op. Dit voel of sy onder my oog rondkrap. "Daarsy!" sê sy vriendelik en die stokkie word in 'n houertjie verseël.
Die kennisgewings teen die deur waar mense vir Covid-19 getoets word.
Isolasie
Busch herinner my dat ek nou myself onmiddelik moet isoleer totdat my toetsuitslag kom. Dít kan tot drie dae neem.
Die oggendson is flou toe ek huis toe ry. Besorgde vriendinne laai kos by die tuinhekkie af. Kollegas stuur bemoedigende boodskappe. Ek voel broos en angstig soos baie ander Suid-Afrikaner wat dieselfde pad moes stap.
Dit herinner my aan 'n kat-en-muis-speletjie omdat Covid-19 se simptome ooreenstem met verkoue en griep. Hoewel ek alles in my vermoë doen om nie die virus op te doen nie, beweeg ek, net soos die res van ons, in winkels om kos te koop. Boonop, vanweë my beroep, kan ek nie altyd kontak met mense vermy nie.
Uitdagings
Ek verstaan nou die uitdaging om te self-isoleer vóór die toetsuitslag bekend is. Die gedagte om myself te isoleer het my moedeloos laat voel. Dalk het ek net 'n winterkwaal, het ek bly dink. Dermate het ek die omvang van ons nasionale krisis besef. Nie almal gaan die vermoë hê om hulself te isoleer nie, veral nie terwyl hul uitslae nog onbekend is.
Ek besef hoe spoedeisend dit is dat uitslae bekend moet wees. Dit moet eintlik dadelik beskikbaar wees as motivering om te isoleer. Die realiteit van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese uitdagings het my opnuut getref, omdat self-isolasie vir baie 'n luukse is. Dit is gerusstellend dat daar plekke gereed is om mense te ontvang wat moet isoleer. Of siekes dit sal eerbiedig, is 'n ope vraag.
Uitslag
Twee dae later, steeds siek, wag ek angstig op die uitslag. "Indien jy positief is, sal jy 'n oproep met instruksies kry. Indien dit negatief is, kry jy 'n SMS," bevestig Busch. Haar woorde was skaars koud toe ek 'n SMS ontvang: LOUISE KARSTEN, From NHLS: Your COVID-19 test result is negative.
Ek voel verlig. Almal, my kollegas en my geliefdes, wat in nabye kontak met my was moet dadelik weet sodat hulle gemoedsrus kan kry.
Dit is ons plig om onsself tydens die pandemie te monitor vir verdagte simptome wanneer ons siek raak en om nie dan in die samelewing te beweeg nie. Dis ons plig om onsself tydens hierdie pandemie te monitor vir simptome. Meer nog, as jy aangeraai word, laat toets jouself en isoleer. Maar 'n kollega se woorde bly my by: "Ek sê mos die virus loop op twee voete verby jou, en dan groet hulle jou nog."
Die uitslag het per SMS gekom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'